Makliker gesê as gedaan... “Seën julle vervolgers, ja, seën hulle,
moet hulle nie vervloek nie.” – Romeine 12:14. Selfs die teks
beklemtoon die “ongeloof” dat jy jou vervolgers moet seën!
Wat?... “Seën hulle?” Ja!, sê die teks, seën hulle! Paulus sê dat
ons die minste moet wees as ons as gelowiges swaarkry. Regtig?
Moet ons nie veg vir ons “saak” nie? Die Boodskap vertaal vers 14
so: “Moenie allerhande oordele uitspreek oor mense wat julle
vervolg nie. Sê eerder vir hulle dat julle bid dat God sy genade in
hulle lewe sal uitstort.”

Ons weet geloofsvervolging is steeds ‘n enorme werklikheid in
die wêreld. Mense sterf steeds vir hulle geloof, selfs al is daar
“geloofsvryheid”. Dit is nie maklik om oral ter wêreld ‘n Christen
te wees nie. Weens geloofsvervolging, maar ook weens
“geloofsverkleinering”. Ons word op baie plekke en in die media
vandag uitgelag en verkleineer oor ons geloof in Jesus Christus.

Die Christelike geloof is nie meer “staatsgodsdiens” nie.
Lankal nie meer nie. Hoewel mense kan glo wat hulle wil,
en byna ook alles kan sê wat hulle wil, is dit asof die Christelike
geloof meer in die spervuur staan.

Dit begin in baie gevalle al hoe meer “teen jou tel” om ‘n
Christen te wees. Mense kyk jou skeef aan as jy opstaan vir jou
geloof. Die modewoord is mos dat ons “akkomoderend” moet
wees. Dit is die modewoord van ons dag. Alles wat jy kies is
eintlik reg, as dit jou keuse is.

Die Nuwe Testament het egter geen kompromieë oor die hart
van geloof nie: Jesus is die Here, die enigste Verlosser! As jy
hierdie belydenis glo, en veral aktief uitleef, gaan jy dit aan
jou lyf voel. Mense kan dit vir jou baie moeilik maak in die
samelewing, by jou werkplek, in die skool of universiteit.

Wat sê die Woord? “Moenie allerhande oordele uitspreek oor
mense wat julle vervolg nie. Sê eerder vir hulle dat julle bid dat
God sy genade in hulle lewe sal uitstort.” – Rom. 12:14.

Ernest