Die Nuwe Testament beskryf die verhouding
tussen geloof en genade vanuit twee perspektiewe.
Aan die een kant beskryf dit hoedat mense hulle bekeer en
hulle lewe aan die Here gee. Dink maar aan die tronkbewaarder in
Handelinge 16. Hy vra vir Paulus wat hy moet doen om gered te word.
Dan antwoord Paulus hom dat hy in die Here Jesus moet glo.
Aan die ander kant lees ons ook hoedat mense wat glo uit genade
gered is. In Efesiërs 2 sê Paulus dat geloof ‘n geskenk uit die hand van
God is. Dit is Hy wat ons uit genade red, verniet, sonder enige iets wat
ons kan doen. Mense word daarom dikwels opgeroep om te glo, maar,
dié wat glo hoor dit is alles net genade van God!
Staan hierdie twee perspektiewe nou teenoor mekaar? Nee.
Die Nuwe Testament sien eenvoudig geloof vanuit hierdie twee
perspektiewe. Eerstens is daar ons menslike perspektief.
Wanneer geloof vanuit ons kant beskou word, dan vra die Bybel dat ons
moet glo, dat ons ons lewe in die hand van die Here moet plaas. Maar,
die Bybel kyk ook na geloof vanuit God se kant. Dan val die klem op sy
genade. Dit is dieselfde proses waarin God alles doen!
Die grootste wonder is nie dat ons glo nie. Die grootste wonder is dat
God ons uit genade red! Dit is eenvoudig nie ons “groot” geloof wat
ons red nie. Dit bly God wat ons red, uit genade. Ons glo dit net!
In Romeine 6 vertel Paulus hoe Jesus ons almal saam met Hom kruis
toe gevat het. Toe Jesus daar aan die kruis gehang het, het Hy ons almal
as’t ware saam met Hom aan die kruis laat hang. So volkome het Jesus
vir ons sonde gesterf, dat God ons ook daar “sien” hang saam met Jesus.
Jesus het regtig elkeen van ons daar verteenwoordig! Hy het dit so
volledig gedoen dat ons as’t ware self daar aan die kruis gehang het.
Daarom sê Paulus in 2 Korintiërs 5 dat Jesus, wat geen sonde gehad
het nie, in ons plek as ‘n sondaar behandel is, sodat ons as gevolg van
ons geloof in Hom, van al ons sonde vrygespreek is!
Genade maak ons vir altyd deel van Jesus se verhaal aan die kruis!
Ernest