Die kruis was vir die vroeë Christene die simbool van die dood,
bloed en vernedering. Die kruis, en dit wat alles met kruisiging
gepaard gegaan het, was so pynvol vir die eerste Christene dat
hulle eers na ongeveer 300 jaar die kruis in alle erns as simbool
en kenteken begin gebruik het! Hulle het besef hoe duur prys die
Here aan die kruis betaal het vir elkeen van ons.
Die kruis is inderdaad ‘n simbool van pyn. Dit is die simbool
gewees van dood, skaamte en Godverlatenheid. Daarom moet
ons besef wat in Jesus gebeur het aan die kruis, vir ons. Die kruis
moet ons ons eie sonde laat raaksien, wat saam met Jesus daar
vasgespyker is.

Genade hou jou oog op die kruis. Genade maak dat jy gereeld
omkyk na die kruis. Maar:
Die kruis het jou verlede uitgevee en dit vervang met ‘n nuwe lewe.
Daar is niks van jou ou lewe meer te sien nadat Jesus daarvoor
betaal het aan die kruis nie. Dis weg! Nooit weer sal my sonde ‘n
struikelblok in my redding wees nie. Ware redding word nie deur
sonde omgekeer nie. God se genade bly vandag nog groter as die
verkeerde dinge in my lewe. Daarom lééf ek nou uit God se genade.

Wanneer ek een tree agteruit gee in my menslike swakheid, dan
vind ek niks in my verlede wat God teen my hou nie. Omdat ek in
Jesus glo wat my lewe nuut gemaak het, is my toekoms veilig by
die Here. Daarom loop ek vorentoe. Ek leef vorentoe. God het my
‘n nuwe mens gemaak in woord en daad. Dit vul my met soveel
toewyding en oorgawe dat ek ‘n nuwe lewe van dankbaarheid
vir Hom lewe.

Genade maak dat ek vorentoe leef en kyk, meer korrek nog,
dat ek deurgaans boontoe kyk! Ek leef afhanklik van God.
Doelbewus. Met oorgawe!
Ernest