“Geseënd is die wat treur...” – Matteus 5:4.
Jesus praat nie hier van mense wat treur oor ‘n verlies wat
hulle gelei het nie, soos ‘n geliefde wat hulle verloor het, of ‘n
groot geldelike verlies nie. daar is baie mense wat “treur” oor
goed waaroor hulle verseker nie moet treur nie! Nee.
Christus wys ons hier wat die geesteshouding is wat Hy van ál
sy kinders verwag. Hulle moet almal mense wees wat treur.
Dit klink op die oog af morbied. Dit lyk soos teenstrydig met
Christus se woorde dat sy blydskap in sy volgelinge moet bly
en dat hulle blydskap volkome moet wees – Joh. 15:11.
Die twee uitsprake stry egter nie met mekaar nie. As Christus die
treurendes die werklike geseëndes noem, bedoel Hy nie ons moet
met lang gesigte rondloop nie. Daar is egter dinge wat ons hartseer
móét maak. Wanneer ons voor God se wil staan, soos Jesus dit in
die bergrede/bergpreek uiteen sit in Matteus 5-7,
en ons vergelyk ons lewe daarmee, behoort ons werklik te treur.
Dink byvoorbeeld aan Jesus se woorde: “Julle moet julle vyande liefhê,
en julle moet bid vir die wat julle vervolg” – Matt. 5:44. Hoe ver skiet
ons geestelike lewe nie hierin tekort nie? Hoe laag is die standaard
wat ons vir ons geestelike lewe stel? Hoe hoog is God se standaard nie!
“Wees dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is” – Matt. 5:48.
Dít is waaroor ons moet treur. Ook oor sonde wat nog ‘n houvas op
ons het. Wanneer ons Matteus 5-7 lees, staan ons sonde groter as groot
voor ons! Wat doen ons daaromtrent? Treur ons enigsins daaroor?
Die treur gaan oor ons geestelike lewe, en nie oor persoonlike “verliese”
nie. Ons moet treur oor ons gebrekkige geestelike oorgawe en die sonde
wat ons steeds toelaat in ons lewe.
Wanneer ons daaroor treur, kom die woorde van Christus na ons:
“Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word.”
Ernest