“ Geseënd is dié wat barmhartig is...” – Matteus 5:7.
Hiermee sê Christus dat elke gelowige in Hom inderdaad
‘n barmhartige Samaritaan moet wees. Lees weer die gelykenis
wat Jesus vertel oor barmhartigheid. Ons moet, tussen alle ander
mense, aan ons barmhartigheid uitgeken word. Barmhartigheid
is nie net om nou en dan “iets” te doen nie, soos ‘n fooitjie vir
die kar-wag, of ‘n bydrae vir die kinderhuis nie.
Barmhartigheid is ‘n gesindheid diep in jou hart. Dit is ‘n
lewenshouding. Dit is in jou hart omdat God in Christus soveel
barmhartigheid aan jou bewys het. Wat Christus aan jou bewys
het, bewys jy nou aan almal. Soos Christus vol ontferming en
deernis teenoor jou opgetree het, so tree jy nou ook,
in dankbaarheid op, teenoor ander.
Barmhartigheid dui op ‘n ingesteldheid van ware omgee.
Dit is nie net om goedgesind te wees nie. Dit is ook nie ‘n emosie
wat net nou en dan opvlam nie. Dit is ‘n blywende gesindheid en
vermoë om met opregte ontferming teenoor almal te leef.
Jy sien nie net die nood van ander raak nie. Baie meer!
Jy klim in daardie mens se skoene, binne in daardie mens in...
Jy kyk met sy oë, dink met sy verstand, voel met sy hart.
Dit is baie meer as die opwelling van ‘n gevoel van jammerte.
Barmhartigheid is ‘n kenmerk en eienskap van God se kinders.
Dit is om meer en meer “soos die Here te wees” teenoor mense.
In Jesus het barmhartigheid sy volle betekenis gekry.
Daar is soveel eensame, ongelukkige, arm, siek, hartseer en
bekommerde mense rondom elkeen van ons. Mense leef in pyn,
liggaamlik en geestelik. Maar duisende gelowiges loop draaie
om hulle, en stuur hulle na “shelters” of na die “kerk” toe vir
hulp, selfs al staan hulle net honger en dors voor ons...
Ons loop by mense verby en sien hulle nie eers raak nie.
Die werklik geseëndes, is die barmhartiges.
Jesus se in Matteus 9:13: “Gaan leer wat dit beteken:
“Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie”.
Ernest