“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle
sal barmhartigheid bewys word.” – Matteus 5:7.
Hierdie seën-toesegging in die saligsprekinge in Matteus 5
is die enigste een wat sê dat jy dit wat jy uitdeel, weer terug
sal ontvang. Dit laat jou dringend en diep dink oor jou “barmhartige”
hart en lewe. Die wat barmhartigheid saai, sal barmhartigheid oes.
Van wié sal die barmhartiges nou barmhartigheid ontvang?
Die eerste, seker van ander mense. As jy barmhartigheid bewys sal
ander mense dit ook soms aan jou terugdoen. Soms, nie altyd nie.
Mense kan soms onbeskof en ondankbaar wees, soos hulle ook
teenoor die barmhartige Jesus opgetree het!
Let wel: ‘n Gelowige wat barmhartig is, maak nooit sy barmhartigheid
afhanklik van dié barmhartigheid wat ander aan hom bewys het nie.
Gelowiges wat barmhartig is, sal voortgaan om barmhartig te wees,
al kry hulle niks daarvan terug nie. Dit is ‘n ingesteldheid wat die Gees
jou gee. Jy kan nie anders nie, want God was so barmhartig teenoor jou.
Jy leef dankbaar jou barmhartigheid uit. Daarom is die eintlike antwoord
op die vraag van wié jý dit sal ontvang: God self!
Daarom is die wat barmhartig is geseënd! Ons grootste behoefte is nie
dat ánder aan ons barmhartigheid sal bewys nie, maar dat God dit sal
doen. Daarsonder is ons totaal verlore. Want in God se barmhartigheid,
lê ons saligheid!
Ons “koop” daarom ook nie God se barmhartigheid deur self aan ander
barmhartig te wees nie. Ware en opregte barmhartigheid het nooit ‘n
bymotief nie. Barmhartigheid is altyd ‘n uiting van dankbaarheid oor
wat ek rééds van God ontvang het. Barmhartigheid wat ek bewys,
is ‘n weerspieëling van die barmhartigheid wat God aan my bewys het!
Die wonderlike vreugde daarvan is: Hoe meer ek gee in barmhartigheid,
hoe meer ontvang ek barmhartigheid, juis in dankbaarheid!
Jy is geseënd as jy barmhartig leef, voorwaar!
God het aan jou barmhartigheid bewys,
en Hy sal nooit ophou daarmee nie!
Ernest