Die ergste pyn, van die meeste beproewinge, is nie soseer die
gevolg van die werklike lyding self nie, maar eerder die weerstand
van mý gees teen die lyding.
Jy kan óf met jou verlies bly leef, en daarop fokus, óf jy kan fokus op dit
wat jy oorhou na die verlies, en daarmee bly leef. Om vergenoeg te kan wees,
vereis dat jy eers jou weerstand teen jou lyding sal laat vaar, en jou werklikheid
áánvaar. Dit wat jy oorhou ná jou verlies. Daarmee moet jy nuut begin en
daarmee moet jy voluit leef! Daarmee begin jy vergenoeg leef, en sinvol leef.
Wat moet gebeur is ‘n geestelike herstel. Jy moet jouself doelbewus anders instel
en gaan woeker, gaan lééf met dit wat jy oorhou. Hierin wil die Heilige Gees jou
begelei, sodat jy met dit wat jy oorhou, voluit vir die Here, en die mense om jou,
en vir jouself kan leef.
Waarop fokus jy? Op wat jy verloor het, of op wat jy oorhou en mee moet leef?
Is dit nie wat Christus gedoen het nie? Hulle is twaalf wat saam Paasfees gevier het.
Toe loop die eerste een om Hom te gaan verraai. Sy beste vriende het nog saam met
Hom na die tuin gegaan, maar daar het hulle aan die slaap geraak terwyl Hy in
doodsangs op sy vervolgers gewag het. Hy het nog net een kraglyn gehad, net een.
Dié na sy Vader. Hy het gebid: “Vader, as dit moontlik is, spaar My tog dit wat nou
voorlê. Maar as dit nie kan nie, Vader, sal Ek dit aanvaar.” Met dié gebed is die mag
van die bose gebreek. Die bose wat uitsigloosheid soos ‘n web voor ons oë spin.
Jesus het opgestaan, let op, Hy het opgestaan. Hy het sy vriende wakker gemaak en
sy verdere lyding tegemoet gegaan. Dit sou nou nog slegter met Hom gaan. Een van
sy binnekring sou ontken dat hy Hom ken en dat hulle vriende was. Hy sou alleen
voor Annas en Kajafas staan. Alleen voor Pilatus. Alleen sy kruis dra. Hy sou selfs
God-verlate alleen aan die kruis hang. En Hy kón sê: Dit is volbring...
Met wat Hy oorgehou het, kon Hy sê God se doel en sy doel is bereik.
En só is die wêreld verlos.
Jesus was Godverlate sodat dit nooit met ons sal gebeur nie.
God is juis ín Christus en deur die Gees bý ons! Ons is in die diepste lyding nooit
van God verlate nie. Daarom kan ons uiteindelik die verlies wat ons ervaar, áánvaar.
En met hierdie aanvaarding kán ons bid: “Bly by my, Heer”. Dit gee ons perspektief
op wat ons oorhou, ... ná verlies. So maak die Here ons vry en ontstaan ‘n innerlike
kalmte van óns in Hom, en Hý in ons. Dit stel ons in staat om, met wat ons oorhou,
te leef totdat ons in totale vryheid kan sê: Dit is volbring. Ek is vergenoeg.
Die Here bly in my. Ek leef in Hom, en Hy leef in my.
Ernest