Die plek van ons lyding en frustrasie is die poort van die hemel.
Die gedagte gee ons moed onder die moeilikste van omstandighede.
Ook die wete dat ook dít, sal verbygaan. Maar die moed wat ons hieruit
kry is uiteindelik ook net sinvol, as dit ons uiteindelik uit die put van lyding
optrek om weer voluit te kan lewe. Dit gebeur nie maar vanself nie. Dit vra
meer as net moed. Dit vra vasberadenheid, volharding, daadkrag.
Is dit nie iets van wat Paulus bedoel het toe hy gesê het hy vergeet wat
agter is en strek hom uit na wat voorlê nie? “Broers, ek verbeel my nie dat
ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter
is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom
sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het
in Christus Jesus.” – Filippense 3:13-14.
Dit is juis omdat Paulus die einddoel nog nie bereik het nie, dat hy hom so
inspan. Dit is juis omdat die wêreld én ons eie lewe nog nie lyk soos wat dit
behoort te lyk nie, dat ons volhard om daaraan te werk. Die hele brief aan
die Filippense is vol van hierdie moed om te volhard, selfs al sien ons nog
nie die eindbestemming nie. Ook die storms in ons lewe, ook die lyding in
ons lewe, sál verbygaan.
Ons moenie dat vrees en passiwiteit ons oorweldig nie. Môre moet ek
verder wees as wat vandag my agterlaat. Verder uit moedeloosheid,
verder uit uitsigloosheid, verder uit lewensmoegheid. Skep elke dag moed
om verder te léwe! Leef met die wete van God se teenwoordigheid, al voel
dit nie vir jou dat Hy jou hand vashou nie. Net ná die laagste eb-gety,
net na laagwater, draai die gety, en word dit weer hoogwater.
Moenie moed opgee nie, selfs al voel dit of jy nie meer een tree vorentoe
kan gee nie. “Bly by my, Heer”, vir nog net die volgende tree, en die volgende,
en die volgende... tree vir tree... Want, met een van die volgende treë gaan
die gety draai. As jy vandag daardie één tree gee, sal môre jou verder vind
as vandag, en oormôre as môre...
So het Dawid dit in sy diepste nood uitgespreek, en Paulus, wat skipbreuk
gely het, herhaaldelik lyfstraf gekry het, tronkstraf verduur het, selfs gestenig
is en vir dood laat lê is by Listre.
God was elke keer daar! Deur die ergste aanslae van die lewe is God nooit
afwesig nie. Onthou dat die poort van die hemel presies daar is waar die
ebgety op sy laagste is, soos met Jakob wat uitgeroep het: “Die Here is by
hierdie plek en ek het dit nie besef nie!...dis die hemel se ingang.”
Presies waar jy is, ís God óók! “Bly by my, Heer.”
Ernest