“... Die Here is naby...” – Filippense 4:5. Ten opsigte van ons hele lewe
kan ons weet dat God naby is, en dat God verstaan. Hy weet alles. Ons
moet ook leef met verwagting. Ons moet doelbewus leef in die oomblik.
“Live in the moment.” Die Here verras ons op onverwagte tye en plekke.
En ook omgekeerd... Soms is Hy nie daar waar ons Hom verwag nie.
Die Israeliete het by geleentheid selfversekerd opgetrek teen die Filistyne
en ‘n skrikwekkende neerlaag gely. Toe dink hulle skielik aan God, en stuur
iemand na die tabernakel in Silo om die ark te gaan haal. Die ark was die
simbool van God se teenwoordigheid. Toe die ark in die laer aangekom het,
het daar ‘n harde krygskreet uit die Israeliete se linies opgegaan.
Die Filistyne het selfs geskrik. God het in die laer aangekom, het hulle vir
mekaar gesê. Toe die Israeliete weer aanval, is hulle nog meer verpletterend
verslaan as die vorige keer. Die ark is selfs deur die Filistyne geroof. So erg
was dit dat Eli van sy stoel afgeval en sy nek gebreek het. Dit is net onmoontlik,
sou elke Israeliet sê. God is geheel en al weg, bestaan Hy dan regtig!?
Is dit nie hoe ons ook maak nie? As ons in die nood is “besoek” ons God meer
gereeld in gebed en in die kerk... ons probeer ook die ark in die laer kry. En ons
wag op God se teenprestasie op ons nuwe toewyding. Maar niks gebeur nie,
en ons sê God is afwesig. Ons moet weet: Ons kan God nie teenwoordig máák
nie. Ons, óns, kan nie God se krag na ons lewe toe aanlê nie.
Maar daar is ook ‘n ander kant in die Bybel. Daar was ‘n vrou wat so neergeslaan
was, en soveel gehuil het dat sy nie eers mooi kon sien nie. Haar naam was Maria.
Sy het soveel van Jesus verwag, maar nou is Hy dood. Sy graf is toe en daar is wagte
voor sy graf. Sy sou hierdie laaste keer daar gaan huil. Toe sy daar kom is die wagte
weg, die klip weggerol en die graf leeg. Sy het ontroosbaar en stukkend van binne
gehuil. Toe praat ‘n man agter haar en sê “Maria”!
Haar veronderstelling dat Jesus “weg” was, was verkeerd. Haar hart is dadelik
gereed om Hom te ontvang. Sy het nie eers “iets gedoen” om Hom teenwoordig
te kry nie. Sy het Hom gladnie daar verwag nie. Maar Hy was dáár! Sy was nie op
soek na Hom om “iets” te kry nie. Sy was net met rou hartseer daar om afskeid te
neem, met geen verwagtings van Hom nie.
Twee misverstande. Dat God daar is want die ark is daar. En dat die Here nié
daar is nie want Hy is dood. Saam met die twee misverstande is daar ook twee
motiewe: God “moet” ons nou help want Hy is hier, in die ark. En die ander motief:
Ek wil net naby God wees in hierdie krisistyd, net dit is genoeg. Al hou die krisis aan.
Dit hang af of jy reken God behóórt daar te wees vir jou, want jy het al soveel
opgeoffer vir Hom. Of... om net in die krisistyd te wens jy is naby aan Hom.
God is daar waar jy is. Deur die Gees woon Hy nou in jou. Hy ken jou Naam.
Hy is daar om jou te verras, al verwag jy Hom gladnie daar nie. God is by jou,
en jy kán bid: “Bly by my, Heer.”
Ernest