“Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met
hom te stry as sy opvatting van joune verskil” – Romeine 14:1.
Ons is almal verskillend, en tog wil ons hê dat almal eintlik soos
ons moet dink en redeneer. Ons weet tog ons het almal persoonlike
voorkeure, afkeure, gewoontes en gebruike. Ons dink nie almal
dieselfde nie, en dit geld ook ons belewing en uitleef van ons
godsdiens. Nog méér so ons persoonlike verhouding met die Here,
wat by elkeen uniek is! Daarom verskil ons ook dikwels oor geloofsake.
Partykeer verskil gelowiges so erg dat kerke skeur en hulle mekaar
veroordeel. Dit is so hartseer vir die koninkryk van God.

Hoe moet ons ons verskille hanteer? Paulus gee hier goeie raad.
Ons moet eers besluit of dit waaroor ons verskil ‘n saak van wesentlike
belang is, en of dit net gaan om voorkeure of afkeure. Oor kernsake
moet ons dit eens wees. Daarin moet ons almal saam, met opregtheid,
soek na die waarheid. Maar as dit oor minder belangrike dinge gaan wat
nie die wesentlike waarheid skade aan doen nie, dan moet ons mekaar
regtig in ag neem. Ons moet ruimte laat vir mekaar se standpunte.
Ons moet ook elkeen voor God gaan staan met ons oortuiging en die
van ander, en dan mekaar nie veroordeel nie.
Alles moet uiteindelik tot eer van God wees.

Daarom sê-vra Romeine 14:10 ook: “Jy, waarom veroordeel jy dan
jou broer?” Ons bestee dikwels so onnodige baie tyd om onredelike
mense rondom ons se neuse uit ons lewe te probeer hou. Mense
meng so onnodig in by onbelangrike sake in mekaar se lewe.
Gelowiges wat regtig met opregtheid op die Here se pad stap,
het geleer om verantwoordelikheid vir hulle eie lewe te dra en nie
in te meng in ander mense se lewens nie. Wanneer ons eie verhouding
met die Here op koers is, sal ons ook kan onderskei waarop dit regtig
aankom. Dit sal ons help om te weet of iemand regtig swaarkry en
waar ons regtig geestelike en materiële hulp moet verleen.
Vra die Here om jou te help met onderskeidingsvermoë sodat
ons tot sy eer kan dien en ingryp waar ons moet dien of ingryp.

Ernest