Die Here vra van sy kinders om met sy liefde by ander
mense betrokke te raak. Dit is nie altyd maklik nie. Soms spoel
die pyn in hulle lewe ook oor na jou toe. Hulle probleme word
jou probleme. Gelowiges deins egter nie terug hiervoor nie.
Ons is met die liefde van Christus betrokke by ander mense in
hulle nood. Ons kan nie om die kantlyn staan wanneer mense
se lief en leed ter sprake is nie. Ons kan nie ons arms vou en
dink hulle moet maar sien en kom klaar nie.
Jesus se liefde dring ons om betrokke te raak!
Jesus se liefde laat jou uitreik en omgee.

Paulus het intens meegeleef met die gemeentes wat hy gestig het.
Die gelowiges se vreugde was sy vreugde en hulle hartseer was sy
hartseer. Daarom dat hy so ontsteld was toe hy agterkom dat die
Galasiërs terugval in ‘n wettiese godsdiens. “My kinders, ek verkeer
van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle
gestalte kry” – Galasiërs 4:19.
Hulle het weer van voor af probeer om al God se wette te hou om
gered te word! Hulle het selfs oorweeg om hulle te laat besny om
God se guns te wen.

Paulus is so ontstel hieroor dat hy weer van voor af by hulle
betrokke raak. Hy kon nie anders as om dringend die brief aan die
Galasiërs te skryf nie. Dit het sy hart gebreek dat hulle weer van
voor af die wet wil hou ter wille van redding. Daarom sy intense
worsteling, soos geboortepyne, om hulle weer op koers te kry.

Ons kan werklik by Paulus leer om van voor af om te gee vir ons
medegelowiges wanneer hulle die pad byster raak of swaarkry.
Ons moet ander se nood swaar op ons laat lê. Ons kan dit regkry
wanneer ons besef dat Jesus óns nood van totale verlorenheid
swaar op Hom laat lê het aan die kruis.

Ernest