Ons staan altyd in skuld teenoor ons naaste. Ons staan in
onbetaalbare skuld teenoor mekaar. Skuld wat ons nooit kan
“afbetaal” en dan niks meer aan mekaar verskuldig is nie.
Hierdie skuld is liefde! God eis dat ons elke dag liefde aan
mekaar verskuldig is. Ons sal nooit by ‘n punt uitkom wat ons
kan sê ons verskuldigde liefde aan mekaar is nou afbetaal nie.
Romeine 13:8 sê: “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie,
behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet voer
die hele wet van God uit.” Ons sal nooit ‘n kwitansie kry wat sê
ons verskuldigde liefde is nou afbetaal nie.
Ons bly liefde verskuldig. Ons het nooit aan
ons naaste “genoeg” liefde bewys nie.
God gee aan ons, in ons naaste, die geleentheid om lief te hê,
om God se liefde teenoor ons naaste uit te leef. Ons naaste
behoort by ons die liefde van God te beleef. In die gelykenis van
die barmhartige Samaritaan was die man wat langs die pad gelê
het na die roof, ‘n geleentheid aan die priester en die Leviet om
God se liefde te wys. En hulle doen dit nie, maar gaan anderkant
verby. Ons kan net dink hoe hierdie twee “ampsdraers” hulle
monde vol gehad het met “die wet van God wat vervul moet word.”
Maar hulle stap anderkant verby. Die half heidense Samaritaan
bewys egter die liefde van God aan die man. Ons kan ook besig
wees met “wet-vervulling” sonder om die mens langs ons lief te hê.
Die belangrikste van God se wet, van God se wil, is liefde!
Die ganse wet is in sy kern die dubbele liefdesgebod:
Jy moet God bo alles liefhê, en jou naaste soos jouself.
Wat ookal tussen ons en ons medemens gebeur het,
en hoe gekrenk ons ookal daaroor is, ons bly ons liefde aan ons
medemens verskuldig. Wanneer ons naby aan Jesus leef, dan sien
ons hoe sy liefde vir die mens lyk, en dan leef ons dit uit teenoor
ons medemens, en ter wille van die eer van God.