Die gelykenis van die saaier in Lukas 8:4-8 leer ons baie oor
God se Woord wat in ons harte, in ons lewe, gesaai word en
moet groei. Verse 5-6 sê dat ‘n deel van die saad op ‘n pad
geval het, en dit is vertrap en die voëls het dit opgepik.
‘n Ander deel het op ‘n klipbank geval en, nadat dit opgekom
het, het dit verdroog omdat daar geen vogtigheid op die
klipbank was nie.

Wanneer Jesus hierdie gelykenis vertel is die skares groot,
maar Hy voel elkeen se hart aan. Daarom vergelyk Hy die
verskillende mense wat die gelykenis hoor met die
verskillende soorte grond wat die saaier aantref. Hyself is
die saaier, en die Woord van God die saad, maar die tipe
grond is die verskillende tipe luisteraars van hierdie gelykenis.
Die grond sou die deurslag gee aan wat van die saad sou word.

Soos onder ons, was daar onder die skare mense wie se harte
soos uitgetrapte paaie is, wat deur die saailande loop. Selfs
onkruid-saad dring nie op hierdie uitgetrapte paaie in nie. Dit is
die mense wat meen hulle ken reeds al die antwoorde, en mense
met sulke klaargemaakte vooroordele kry jy nie oortuig nie.
Die Grieke het ‘n gesegde gehad: “Selfs die gode veg tevergeefs
teen domastrantheid”. Dikwels is ons ook so:
Ons ken ons uitgetrapte paadjies al te goed. Ons dink ons weet
klaar alles. Ons behou dan nie meer die vermoeë om te ontvang
en te laat groei wat God in ons harte wil saai nie.

Die saad op die klipbank is net so ‘n probleem om te groei.
Die klipbank moet eintlik eers weggekap word voor iets daar sal
groei en vrug of saad dra. Aanvanklik groei die saad, om net later
te kwyn en dood te gaan. Ons is soms emosioneel in swaar tye,
en die saad val in die grond en begin ontkiem en groei, maar dan,
na ‘n kort rukkie, is die wortels teen die klipbank. En die groei
hou op. Laat toe dat God ook die klipbank in jou lewe wegkap.
Laat Hom toe om die gedeeltes van jou lewe wat groei belemmer,
weg te kap. Dit is noodsaaklik vir deurlopende groei en vrug.

Ernest