Lukas 13:8-9: “Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan.
Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien
sal hy dan volgende jaar vrugte dra.”
Hierdie is ‘n gelykenis oor die volk Israel, oor die kerk,
en oor ons as indiwidue. God is die eienaar van die vyeboom.
Die vyeboom stel Hom egter teleur. Daar is nie vrug nie.
Ons weet die volk Israel en sy leiers het God dikwels teleurgestel.
Die kerk het God al dikwels teleurgestel. En ons stel God dikwels
teleur.
In plaas van vrug, kry die eienaar net blare by die boom. Dit is ‘n
teken dat die tyd vir vye verby was nog voordat dit begin het. Ons
is dikwels ook so. Ons vertoon blare, maar dra nie vrug nie.
Godsdienstige oefeninge en rituele sonder die vrug van die
Heilige Gees. So was Israel, en is die kerk, en ons ook steeds.
Die tuinier is Jesus wat vir die behoud van die boom pleit.
Vir nog ‘n kans. Hoe sou die “gesprek” tussen Jesus en die Vader
verloop? Die wonder van hierdie gelykenis is dat dit God se genade
beklemtoon, en dat God nooit maklik maar net “uitkap” nie. Hy laat
weer en weer bewerk. Daar was al in ons almal se lewe insidente
wat “afkap” werd was. Die wonderlike is dat God ons telkens laat
snoei, dikwels erg laat snoei, om lote sonder vrug te verwyder.
Hy wag telkens geduldig dat die takke wat oorbly sal vrug dra,
vrug wat sal hou.
Dit is elkeen van ons se wens om só in God te groei, en vrug te dra,
soos Hy dit wil hê. Daarom vra ons ook: “Snoei ons Here, tot U eer.”
Ernest