Die gelykenis van die verlore seun bly een van die
treffendste verhale om God se liefde vir sy kinders te “vertel”.
Lees Lukas 15:11-32, al is dit die enigste wat jy in ‘n lang tyd
uit die Bybel lees... In vers 18 sê die verlore seun: “Ek sal
dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: “Pa, ek het
teen God en teen pa gesondig.”
In die beroemde Hermitage-museum in Sint Petersburg hang
die beroemde skildery van Rembrandt van die verlore seun.
Die seun sien daar ellendig uit. Verflenter en verdwaas kniel
hy by sy pa. Hy lyk soos ‘n patetiese figuur in sy skande, maar
sy pa is groots in sy hartlike ontvangs van sy seun na al die
hartseer. Sy seun het ver geval. Van erfgenaam tot varkwagter.
Dit is ‘n skande vir ‘n Hebreër. Namate sy geld en sy vriende
opgeraak het, het sy standaarde saam daarmee verlaag.
Eensaam kom hy tot die besef dat hy slegter af was as een
van sy eie pa se dagloners.
Die pa het natuurlik die goue reël toegepas wat ons weet
waar is, maar so moeilik is om uit te voer: As jy iemand of iets
werklik liefhet, laat hom gaan. As hy na jou terugkeer is hy
werklik joune. Anders het hy (of sy of dit) nooit aan jou
behoort nie. Sou ons kon sê?... die Here pas meermale die
reël ook op ons toe. Hy laat ons begaan en ons eie kop volg,
en dit hard stamp. Maar, soos die Goeie Herder wat Hy is,
soek Hy ons. En soos die pa hardloop Hy na ons en soen ons
en reël ‘n tuiskoms fees!
In Rembrandt se skildery tref die verflenterde, deurtrapte
sandale ‘n mens. Die beeld van een wat ver weggeloop het,
en ver moes terugloop na sy pa. Sy pa se hy moet nuwe
skoene, en klere en ‘n ring kry. As Jesus vir ons ‘n beeld van
die Vader wou wys, is hierdie een die aangrypendste:
die Vader wat liefhet. Die Vader wat verstaan. Die Vader
wat alles vergewe! Kom terug na jou Vader...
Ernest