In die gelykenis van die verlore seun sê die pa: “Kind,
jy is altyd by Pa, en alles wat Pa het, is ook joune.”
– Lukas 15:31.
Die oudste seun was in die veld toe die verlore seun
teruggekom het. Hy het kwaad geword oor die fees vir sy
deurbringer-broer. Sommige van ons het groot simpatie
met hierdie broer. Sommige sieninge is dat hý wat by die
pa gebly het eintlik net so verlore was, as jy na sy reaksie kyk.
Augustinus het so ver gegaan om te sê: “’n Verdonkerde hart is
die “ver land”, want dit is nie met ons voete nie, maar in ons
liefde dat ons U verlaat of na U terugkeer.” Die oudste broer het
‘n goeie saak gehad. Hy het immers by sy pa gebly en baie hard
gewerk. Waarskynlik het die pa ook gereken die oudste broer
het ‘n saak. Daarom gaan hy uit en praat mooi met hom.
Hy het beide sy seuns lief. Die blyer en die glyer...
En hy voeg ook by vir die oudste seun: “Alles wat Pa het, is ook
joune.” Dit was inderdaad nog altyd so. Maar die gebroke gesin
was nou weer herstel. “Kom in”, sê die pa, “ons kan nie anders
as om fees te vier nie.”
So, sê Jesus, is die hemelse Vader: Trou en begrypend teenoor
die oudste seun, die voorbeeldige een. Maar ook liefdevol en
ontvanklik teenoor die skande-maker wat kom vergifnis vra.
Daar is iets van albei broers in die meeste van ons. Daar is
toegewyde Christene wat die lang pad saam met God gestap
het en steeds stap. Hulle glo hulle het “volle regte” op God.
Hulle kla soos Sint Teresa van Avila: “Dis geen wonder U het
so min ware kinders nie, want U behandel ons so dikwels
onregverdig.” Die Vader skuld ons egter niks! Heeltemal niks!
Maar Hy sê alles is tóg ons sin!
Ons is ook die jonger verlore seun. Die deurbringer en
skande-maker. Elkeen van ons kan van dié rekord ‘n redelike
lang lys van onsself opstel. Ons moet eerlik wees... Die Vader
aanvaar albei seuns opnuut. Ewe veel. God is eenvoudig so!
Genadig! Geloof is om te aanvaar dat ons aanvaar word!
Meer nog: Dat ons aanvaar is!
Ernest