Daar is mense wat meen die Christelike geloof “skep”
vir hulself ‘n vaderfiguur wat eintlik ‘n projeksie is van
die menslike gees, ‘n uitvloeisel van die menslike gemoed
en behoefte. Hulle sê dit is wensdenkery omdat mense die
behoefte het aan ‘n vaderfiguur. Ons skep iemand met wie
ons enige tyd kan praat... een wat meer weet en sterker is
om ons altyd te help.

Die Vader in die hemel is verseker nie ‘n projeksie nie.
Die Vader het Hom deur die Woord van God aan ons openbaar!
Ons glo dit, en bely dit, en sal sterf vir hierdie geloof, soos mense
destyds op die brandstapels gesterf het. Sal ons?

Dink weer oor jou geloof en die belydenis daarvan.
Hebreërs 11:6 sê: “Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan
en dat Hy dié wat Hom soek, beloon”. Die Vader is nie ‘n projeksie
of self geskepte mensebeeld nie. Hy het Hom van bo en van buite
ons gees aan ons openbaar, en Hy doen dit steeds deur sy Woord
en Gees. God, ons Vader, is ‘n “objektiewe” werklikheid.

Dat ons ‘n intense behoefte aan ons hemelse Vader het is baie waar.
Natuurlik. Hy ís sterker as ons. Ons bely tog dat Hy almagtig is.
Hy kan alles doen wat ons nie regkry nie, dinge wat ons moedeloos
laat. Hy gee ewige hoop en blywende hoop. Hy is ons lewende hoop.

Daarom sê die Woord: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want
Hy sorg vir julle.” – 1 Petrus 5:7. Om deur God ons Vader raakgesien,
aangespreek en aangeraak te word in sy liefde, is die wonderlikste
wat met ‘n mens kan gebeur. Dit bevestig telkens dat ons sy kinders is.
1 Johannes 3:1: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het:
Hy noem ons kinders van God, en ons ís dit ook.”

Ernest