“Psalm 139:1: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.”
Ons kan nie voor God agter maskers wegkruip nie. Hy is die
Almagtige Vader. Sy almag beteken dat Hy ook alwetend en
alomteenwoordig is. Hy sien dwarsdeur ons, sê Psalm 139:1.
Hy ken ons ware self, wat óns dikwels sélf nog moet leer ken.
Hy weet van ons, wat ons self dalk nog nie eers besef nie.
Ons is so beperk in self-insig. Ons hele lewe en lewensloop
is egter oop en bloot voor God. Ons sit en staan, ons kom en
gaan, al die lewens-draaie wat ons maak, letterlik en figuurlik.
Ons Vader weet watter gedagtes by ons gaan opkom nog
voordat ons dit self dink. Dit is “scary”, sê ‘n jongman. Is dit?
Is dit nie juis wonderlik dat God alles van my weet nie? In plaas
van ‘n “wegsteek” lewe, kan ek nou vrymoedig voor Hom lewe.
Ek breek ook nie die nuus met sonde nie. Hy weet reeds daarvan,
en dit laat my makliker met Hom daaroor praat. Hy sluit my in
van alle kante. Dit is wonderlik. Ek wil tog nie ‘n god hê wat nie
alles van my weet nie. Sou dit dan God met ‘n hoofletter vir my
wees?
Hoe kan die pottebakkers-klei die hand van die pottebakker wil
ontglip? Die klei is afhanklik van die pottebakker om gevorm te
word. God het ons geskep, kunstig aanmekaar geweef in die
moederskoot, Hy het ons gesien en geken nog voor geboorte.
Hy ken nie net ons herkoms nie, maar ook ons toekoms. Al ons
lewensdae is by Hom opgeskryf. God sien dwarsdeur ons...
en nógtans het Hy ons lief! Nogtans! Dit is die grootste liefde
vir ons wat daar kan wees! Dit is die evangelie van die Lewende
God: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my”!! Ons dank die
Here dáárvoor!
Ons kan bid:
“Dankie Vader, dat U my nie stukkend kyk nie,
maar my met U liefdevolle blik kom heelmaak.”
Ernest