Die kerkvaders wat deur eeue saamgewerk het aan die Christelike
belydenisskrifte moes diep nadink oor die geboorte van Christus,
as mens!... op aarde. Toe hulle hierdie wonder van die geboorte
van die Seun van God moes probeer beskryf, kon hulle slegs
stamelend bely:
“Vere Deus et vere homo” – “waarlik God èn waarlik mens”.
Ons moet aan albei hierdie twee waarhede omtrent Jesus
Christus vashou. Ons mag nie een van die twee waarhede uit
die oog verloor óf oorbeklemtoon ten koste van die ander nie.

Deur die geskiedenis het dit gebeur en die geskiedenis het bewys:
Wanneer die Godheid van Jesus verloën word, word Jesus slegs as
‘n buitengewone mens vereer. Hy is dan wel deur God uitverkies
vir ‘n bepaalde taak, maar Hy is steeds bloot net mens. Hy word
dan slegs die groot Voorbeeld vir ons.
Aan die ander kant... wanneer die menslikheid van Jesus verloën
word, word Hy bokant die werklikheid van die geskiedenis uitgelig
en word Hy uiteindelik ‘n wêreldvreemde figuur wat ‘n aantal
teoretiese leerstellings op aarde nagelaat het. Niks meer nie.

Jesus is waarlik God, én waarlik mens! Waarom moes dit so wees?
Hy moes God wees, anders sou Hy ons nooit kon verlos nie. Geen
mens is daartoe in staat nie. Daarvoor is die diepte van die sonde
van elke mens, van alle mense, afgryslik. Almal is ewe skuldig voor
God... die een kan nie die ander verlos nie.
Jesus moes ook mens wees, om juis die straf van die sonde op die
mens te dra en daarvoor te betaal. Hy moes werklike verlossing
bewerkstellig. Nie bloot teoretiese verlossing nie.

Daarom kon die Romeinse offisier, wat by was toe Jesus gekruisig is,
uitroep: “Hierdie man was werklik die Seun van God” – Matt 27:54.
Hy was ‘n man, ‘n mens, aan die kruis, maar ook Seun van God!
Wat en Wie is Hy vir jou?
Ons kan net in verwondering en dankbaarheid bid: “Here Jesus,
waarlik God en waarlik mens, dankie dat U mý, gewone sondige
mens, waarlik terugbring by God!”

Ernest