‘n Tienermeisie moes tydens die kommunistiese regime vir haar geloof
in Jesus Christus sterf. Toe sy weggelei is na die vuurpeleton het sy die
Geloofsbelydenis hardop bely sodat die ander gevangenis dit kon hoor
en hardop saam met haar begin bely het. Sy het daarmee voortgegaan
totdat die skote geklap en sy gesterf het. Wat ‘n onstuitbare belydenis!
Dit is maklik om te bely dat Christus die Here is in ‘n vriendelike
atmosfeer en omgewing, veral waar ander gelowiges dit saam met jou
doen. Dit is anders om dit onstuitbaar te doen waar jy dit teen ander
gode en goddelose mense in moet bely in ‘n vyandige situasie. Dit is
dikwels eers hier waar die toets en egtheid van jou belydenis deurkom.
Vir die vroeë Christene het die belydenis dat Jesus Christus die “Kurios”,
die Here, is, dikwels hulle dood beteken. Hulle stemme is so stilgemaak,
maar die belydenis leef voort by elkeen wat dit by ‘n kind van die Here
hoor, en in hulle lewe sien. Ons moet dit weer en weer bely en leef.
Ons moet dit verder voer. Onstuitbaar bely en leef.
As ons stilbly sal die klippe dit uitroep! – Lukas 19:40.
Soms mag dit vir ons vóél of iets of iemand anders in beheer is.
Dit bedreig ons geluk en ons veiligheid op aarde. Dit maak ons bang.
Dit is omdat ons dán Christus, die Here, die Heerser, uit die oog verloor.
Daar is egter net Een in die skeppings- en wêreld geskiedenis wat kan sê:
“Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.”
– Matteus 28:18.
Ernest