Die vierde artikel van die 12 Artikels (Apostoliese Geloofsbelydenis),
wat ons gereeld in die erediens bely, is dat Jesus
“... gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het
en begrawe is en ter helle neergedaal het...”

Ons weet dat Jesus vir óns gely het. Ons dink egter meestal dat sy lyding
eers teen die einde van sy lewe begin het, tot die hoogtepunt op Golgota.
Jesus se hele lewe was van geboorte tot sterwe lyding gewees! Hy moes
sy heerlikheid in die hemel prysgee en mens op aarde word.

Reeds dit was vernedering en lyding. Filippense 2:6-8 stel dit treffend:
“Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het
Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan
mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself
verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan
die kruis.”

Jesus se hele lewe wys heen na die kruis waar Hy betaal vir ons sonde!
Jesus se hele lewe was omvattende lyding, ter wille van ons, tot aan die
kruis. Jesus is gebore - vir my, leef - vir my, sterf - vir my,
sy totale lewe – ly Hy – vir my!

Ter wille van my het Jesus aan die kruis moes uitroep:
“My God, my God, waarom het U my verlaat?” – Matteus 27:46.
Ons kan nie die volle betekenis hiervan met ons menslike verstand
ontrafel nie. Dink daaroor, dat dit God die Vader is wat sy eie Seun laat ly.
Die dieptepunt hiervan was Godverlatenheid! Kan ons dit bedink?
Ons kan net dankbaar in aanbidding buig. Dit alles sodat óns die oordeel
oor die sonde kan vryspring! Daarom kan ons vandag in die oopte voor
die aangesig van God leef! Sonder vrees vir God. Veilig in sy hand. En vry!
Vrygekoop aan die kruis! Ons kan bid:
So baie dankie Here. Wat my moes tref, het U getref, aan die kruis.
Duisende male dankie, o Here, aan U my dank, en ere, en lewe!

Ernest