Hoekom eindig ons geloofsbelydenis nie by “gekruisig is” nie,
maar word bygevoeg dat Jesus “gesterf” het? Die gedagte aan die
dood en die werklikheid daarvan, sit tog reeds opgesluit in die
woord “kruis.” Hieroor kan niemand twyfel nie.
Die vroeë Christelike kerk wou die werklikheid van die
plaasvervangende karakter van Jesus se dood so sterk
beklemtoon dat hulle bygevoeg het: “gesterf het”.
Dit is ‘n geweldige gedagte... dat God gesterf het.
Dat Hy werklik dood was. Jesus het nie die laaste fase van menswees,
ter wille van ons, vrygespring nie. Jesus hét die laaste asem uitgeblaas
– Matteus 27:50.
Dit is vir ons moeilik om te verstaan presies hoe dit moontlik is dat
God kon sterf. Ons sou kon vra: Het Hy gesterf na sy menslikheid?
Of as eniggebore Seun van God, dit wil sê as God self? Jesus sê tog
dat Hy en die Vader een is. God kan tog nie sterf nie. Dit bly ‘n
geheimenis van God. Tog weet ons dit: Jesus sterf verseker as
Middelaar. Hy het werklik doodgegaan, sodat mense wat werklik
doodgaan, werklik kan leef.
Jesus het soos enige ander mens gesterf om juis die dood te oorwin,
in die dood! Hy was werklik dood. Dit is ook aan die kruis getoets.
Uit die wond in sy sy het bloed en water gekom – Joh. 19:34. Sy dood
was egter nie net die bevestiging van die verganklikheid van alles nie.
Nee. Hy sterf as Messias, as Middelaar. Op daardie oomblik skeur die
voorhangsel van die tempel oop. En daarmee bring Jesus toegang tot
die Allerheiligste, die Allerheiligste God. Met Jesus se dood word
hemel en aarde herenig. Hy bewerkstellig totale verlossing van die
totale werklikheid. Die belydenis van die feit dat Jesus gesterf het,
is gevul met heil! Redding.
Ons kan bid: Here Jesus, vergewe my dat ek nog so dikwels
leef asof die hemel bokant my toe is, en die hel onder my oop.
U is my Middelaar, my weg na die Vader. Dankie Here!
Ernest