Die vyfde artikel van die 12 Artikels, ons Geloofsbelydenis,
bely die volgende: “... wat op die derde dag weer opgestaan het uit
die dood; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand
van God, die Almagtige Vader...”
Al vier Evangelies beklemtoon Jesus se opstanding uit die dood.
Waarom word dit so baie benadruk? Dit wil beklemtoon dat Jesus
se lyding, dood, en spesifiek sy opstanding ‘n historiese werklikheid is.
Jesus het die dood betree, die aller-laaste vlak van menswees.
Hy triomfeer dan oor die dood met sy opstanding uit die dood.
So intens, so enduit identifiseer Hy Hom met ons, tot ons heil,
tot ons verlossing.
Waarom staan Jesus eers op die derde dag op uit die dood?
Die derde dag het die versekering gegee. Daar kan geen twyfel
wees nie. Jesus was werklik dood. En nou is die graf van Jesus leeg.
Dit is histories waar. Hy het verskyn aan sy dissipels, en selfs aan
meer as vyfhonderd van sy volgelinge op een keer – 1Kor. 15:6.
Die opstanding is ‘n historiese werklikheid en baie getuies het
Jesus gesien na sy opstanding. Dit is net so ‘n werklikheid as wat
God se skepping ‘n werklikheid is.
Met die opstanding van Jesus plaas God self sy seël van goedkeuring
op Jesus se versoeningswerk. God verbly Hom oor sy werke in Christus.
So word Sondag, die derde dag na die dood van Jesus, die opstandingsdag.
Die eerste dag van die nuwe week. Hierdie dag is die uitroepteken van God se
verlossingswerk. Vandag nog vier ons die opstanding van Jesus Christus op
elke Sondag! Dit is ‘n dag om te onthou:
“Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam
met Hom sal lewe” – Romeine 6:8. Elke Sondag is om te onthou, om te vier,
en om lof aan God te bring vir die opstanding saam met Jesus!
Van Sondae af, van die samekoms van die gemeente af, loop dit oor na
al die weeksdae. En dit loop oor na die ewigheid saam met God.
Die dood se angel is uit!
Ernest