Ons bely verder met die vyfde artikel, van die 12 Artikels van ons
Geloofsbelydenis, dat Jesus “...opgevaar het na die hemel en sit aan
die regterhand van God, die Almagtige Vader...”

Jesus het opgestaan uit die dood, daarna verskeie kere aan sy dissipels
verskyn, en veertig dae later na die hemel opgevaar.
Ons bely die hemelvaart van Christus. Dit het gebeur ter wille van ons.
Dit dui egter nie ons bestemming aan nie. 2 Petrus 3:13 sê:
“Ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat
God belowe het en waar die wil van God sal heers.” Ons gaan nie,
in die streng sin van die woord, eenmaal “hemel toe” nie.
Ons bly nou op aarde, met die taak om die evangelie hiér te verkondig.
En ons uiteindelike woonplek is die nuwe aarde onder ‘n nuwe hemel.

Een van die gevolge van Jesus se hemelvaart is dat dit ons op ‘n nuwe
wyse aan die aarde knoop. In die eerste artikel van die Geloofsbelydenis
bely ons dat God hierdie aarde geskep het. Nou kom daar iets nuuts by:
Hy gaan dit ook herskep!

Daarom is Christene nie wêreldvreemde mense nie. Ons moet juis in
die Naam van Jesus bly worstel om die verlossing en die herskepping
van hierdie wêreld. Die hemelvaart sit kinders van God aan die werk
op hierdie aarde...tot aan die uithoeke van hierdie aarde.

Ons sien reeds uit na Jesus se wederkoms, maar sy hemelvaart sit ons
aan die werk op hierdie aarde met ons oog op die wederkoms. Jesus se
hemelvaart anker ons juis in die werklikheid van hierdie aarde en ons
roeping daarin.

Op hierdie aarde bly ons steeds vreemdelinge en bywoners, sê 2 Pet. 2:11.
Ons bly altyd op pad na ons nuwe woonplek, die nuwe aarde! Christene is
vreemdelinge op aarde. Ons kan nooit gladweg inpas en aanpas by die
sondige wêreld nie. Ons is kinders van God.
Leef so, en verander die wêreld rondom jou, deur die Gees in jou!

Ernest