Jesus kom weer, om te oordeel, die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
So bely ons in ons Geloofsbelydenis, die 12 Artikels/Apostoliese geloofsbelydenis.
2 Kor. 5:10 sê: Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn.
Die eindoordeel is een afspraak wat geen mens sal misloop nie. Almal wat lewe,
en die wat reeds gesterf het. God het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die
wêreld gaan oordeel deur Jesus wat Hy uitgekies het – Hand. 17:31.
Hoe gaan ons so ‘n dag tegemoet? Prediker het al vir ons aangedui hoe om te
leef in Prediker 12:13-14: “Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van
die mens gevra word. God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor
wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.”
Wanneer Paulus waarsku dat ons almal voor Christus as Regter sal “verskyn”
– 2 Kor. 5:10, gebruik hy ‘n veelseggende woord. “Verskyn” kan ook vertaal
word met “openbaar” of “blootlê”. Dit is wat in die eindoordeel gaan gebeur.
Dit is nie ‘n private aangeleentheid tussen die Here en my nie, maar ‘n openbare
gebeure, ‘n openbaar-makende proses. Die lig van die oordeel sal straal tot in die
verste uithoeke van my ware “ek”. Al ons gedagtes, gesindhede, geheime,
begeertes, motiewe en drifte sal openbaar word. Tot in die kern van my bestaan.
Dit is ontnugterend. Maar juis dié wete kan nou reeds ‘n heilsame invloed op ons
lewe hê. Dit beweeg ons tot eerlikheid, en opregtheid. Om oop en bloot voor God
en mense te leef. Ons hart is die woonplek van God! Ons maak nie van ons hart
‘n moordkuil nie.
Dit roep ons op om soos ‘n Dawid te bid: “Skep vir my ‘n rein hert, o God,
vernuwe my gees...” – Psalm 51:12. Nie alleen ‘n opregte hart nie, maar ook ‘n
lewe in dade, in ooreenstemming daarmee. ‘n Boom word aan sy vrugte geken
– Matt. 12:33. Die eindoordeel het nie net met ons innerlike lewe te doen nie,
maar ook met ons dade. Of ons hart en lewe opreg is, word veral sigbaar in ons
barmhartigheid, of gebrek daaraan, teenoor ander mense. Volgens Jesus se
profetiese rede in Matteus 25 word ons juis daaraan geoordeel:
“Kom, julle wat deur my Vader geseën is. Die koninkryk is van die skepping van
die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger,
en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het my iets gegee om
te drink; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere,
en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en
julle het my besoek... Vir sover julle dit aan een van die geringstes ... gedoen het,
het julle dit aan My gedoen” – Matt. 25:34-36, 40.
Duideliker kan dit nie gestel word, as wat Jesus dit hier sê nie.
Alleen die wat geglo én gedoen het, sal gered word!
Ons kan bid: Here, U sien dwarsdeur my (Ps. 139:1), U ken my. Dring my tot die
goeie dade wat U deur my wil doen. Uit myself doen ek eerder kwaad as goed.
Here, skenk aan my ‘n daad-werklike geloof. Dankie... Here.
Ernest