Die kerk is die gemeenskap van gelowiges, die gemeenskap van die heiliges,
‘n liggaam waarvan al die dele ‘n eenheid vorm. 1 Kor. 12:12: “Net soos die
liggaam ‘n eenheid is en baie lede het, en soos al die lewe saam... een liggaam
vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.” Die kerk moet hierdie
gemeenskaplikheid bewaar, maar ook uitbou. Want juis dáárin is ons anders
as die wêreld. In die wêreld is dit meestal elkeen vir homself en is selfsug die
oorheersende “wet van die lewe.” In die kerk is dit nie net “anders” nie,
maar die teenoorgestelde!

Ons weet ook, nié almal wat “kerk toe gaan”, is waarlik kerk van die Here nie.
Hulle kan die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die
godsdiens ken hulle nie – 2 Tim. 3:5. Hulle is besoekers aan die “kerk”, maar
nie deel van die “gemeenskap van die heiliges” nie. Maar dit is juis óók in
hierdie blootstelling aan die gemeenskap van die heiliges en die Woord van
God waar die kerk uitgebou word. Hier leer ken hulle ook vir God as Vader,
Christus as Verlosser en Here, en die Heilige Gees wat by hulle kom inwoon!

Die gemeenskap van die heiliges word ook opgeroep tot diens aan God en
die dra van die evangelie na alle mense. Ons is nie rus-rus op ‘n passasierskip
waar ons bedien word nie, maar eerder soos op ‘n oorlogskip waarop elkeen
‘n taak van diens het! Elkeen se diens is onontbeerlik! Daarom ontvang elkeen
ook “gawes” en God se doel daarmee is om die gelowiges toe te rus vir húlle
diens en vir die opbou van die liggaam van Christus – Ef. 4:11-12.

Die gemeenskap van die heiliges sorg vir ander deur mee te leef en om te gee
vir mekaar. Dit neem verskillende vorme aan. Paulus sê byvoorbeeld in Gal. 6:2
dat ons mekaar se pyn nie kan ignoreer nie, maar mekaar se laste moet dra.
Hy sê op dié manier gee ons “uitvoering aan die wet van Christus”. Ons omgee
vir mekaar onderskei ons juis in hierdie wêreld.
Ons leef volgens Christus se wet van liefde!

Ons moet as “gemeenskap van die heiliges” so aantreklik vir die wêreld leef
dat selfs verstote en eensame mense hier ‘n vaste tuiste kan vind in die
huisgesin van God! Dit is nie altyd maklik nie. Ons weet dit. Dink maar aan
boemelaars. Hoeveel keer praat ons nie oor hoe om hulle te hanteer nie.
Ons wéét, maar hoe!? Argumente waarom ons nie die man of vrou voor ons
hek, of by ons deur, of op die parkeerterrein moet help nie, het ons oorgenoeg.

En tog het sulke mense Bybels gesproke die “reg” om by gelowiges, die kerk,
die gemeenskap van die heiliges, aan te klop. Ook daar waar ons by hulle
verbyleef. Hulle het juis die “reg” om by ons brood te vra. Meestal vra hierdie
randfigure van die lewe meer as brood. Hulle “pleit” om waardigheid, erkenning,
warmte, liefde. Ons kan dikwels so baie gee, selfs al kan ons nie op daardie
oomblik fisies iets in hulle hande sit nie. Laat die Heilige Gees jou lei. Dit is die
belangrike. In die geringstes het ons ook met die barmhartigheid van die Here
te doen...

Ons kan bid: Here, ek meld aan vir diens, om te bedien, en voete te was,
nie om gedien te word nie. Here, dra my sodat ek ook ander kan help dra.
Gee my deernis vir ander se nood. Laat my onthou waar ek was...
voor U in my kom woon het... en my familie gemaak het van U.

Ernest