Die gemeenskap van die heiliges is ‘n teken van hoop in hierdie wêreld.
‘n Teken van beter dinge wat kom. Want die Heilige Gees wat in ons woon,
is die waarborg dat ons “ook verder sal ontvang wat God belowe het,
wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos” – Ef. 1:14.

Die gemeenskap van heiliges strek hom uit na al die mense wat reeds
geleef het, wat nog moet kom, én na die ewige gemeenskap met mekaar
in God se ewige teenwoordigheid. Ons is ‘n ewige gemeenskap van heiliges.
“Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap
van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het.” –
Ef. 3:14-15.

Die gemeenskap van die heiliges sluit ook hulle in wat ons in die heerlikheid
van God vooruitgegaan het, wat reeds voor die troon van God is, en Hom vir
ewig dien – Op. 22:3. Die gemeenskap van gelowiges is nie net die strydende
kerk nie, maar ook die triomferende kerk! In Openbaring 7:9-17 kry ons as’t
ware ‘n hemelse perspektief op die kerk, die gemeenskap van die heiliges.

Hier tref ons die kerk in sy finale vorm aan wat sy ewige tuiste en doel bereik
het. Hier, en ook in Op. 21:1-8, sien ons die kerk na die aardse stryd, na die
groot verdrukking – Op.7:14. Na al die geloofs-aanvegtinge.
En wat sien ons? Nie ‘n enkele gelowige het verlore gegaan nie!

Johannes sien ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie. God tel hulle!
Hulle kom uit elke nasie, stam, volk en taal, om voor die troon en voor
die Lam te staan – Op. 7:9. Het jy dalk al opgegee met die kerk?
God gee nooit op met die kerk nie. Die kerk is die gemeenskap van die heiliges.
Hulle wat aan God behoort. Hulle wat in Christus uitverkies is en geheilig is om
toegewy aan God te leef, tot in ewigheid, by Hom!

Ons kan bid: O Here, tel my in by die gemeenskap van die heiliges,
wat net U kan tel. Laat my nou reeds ‘n teken wees van hoop.
Laat my nou reeds saam met die hemelkoor sing in lof en aanbidding.
Tel my in...

Ernest