Die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15 word deur baie
Skrifkenners beskou as die belangrikste van al die gelykenisse in
die Woord van God. Hier word die wonder van God se vergifnis
duidelik geïllustreer soos op min ander plekke in die Bybel.
Eintlik kan ons eerder praat van die gelykenis van die vergewende Vader.
In hierdie gelykenis sien ons ten minste vyf beelde van die Vader:
Die eerste beeld van die Vader: Ons sien die swygsame vader.
Rembrandt van Rijn het die vader geskilder wat swygsaam kyk hoe sy
seun gereed maak om huis te verlaat en op sy eie te gaan. Alles is stil
en as’t ware leweloos, behalwe die oë van die vader wat lewe van
hartseer, kommer, liefde, geduld, omgee... Wat gaan van die seun word?
Wanneer keer hy terug? Só is God. Ons Vader! Hy kyk swygsaam as ons
vertrek, maar sy hart skeur van kommer en liefde. Hy dwing niemand
teen sy wil in sy koninkryk in nie. Ons is nie poppe wat Hy manipuleer
nie. Liefde is ‘n keuse. Hy dwing ons nie. Wil jy terugkeer?
Die tweede beeld van die Vader: Die tweede beeld is die van ‘n
hardlopende Vader. Toe die seun terugkeer na die vader, verander hy
van ‘n swygsame vader na ‘n hardlopende vader... die seun tegemoet!
Lees weer Lukas 15:11-32... Toe die seun nog ver aankom, het sy pa
hom al gesien” – Hy het gedurig vir sy seun op die uitkyk gebly.
Hom ingewag – “en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet,
omhels hom en soen hom” – vers 20.
In die Griekse teks staan daar: die pa se hart was in hom omgekeer,
onstuimig vanweë sy liefde en medelye. Verder staan daar in die
oorspronklike: Die pa het sy seun sonder ophou, aanhoudend gesoen,
as’t ware met soene bedek. Dit is ‘n aangrypende beeld: ‘n God wat na
ons uithardloop, wat ons omhels en soen. God se vergewensgesindheid
bring Hom in beweging na jou toe!
Ons kan bid: Vader, hou U oë op my. Ek wil deurgaans terugkeer.
Ek is nie werd dat U na my toe hardloop nie, maar ek wil ook na
U toe hardloop.
Ernest