Kan ons maar sê die derde beeld van die vader in die gelykenis
van die verlore seun – Lukas 15:11-32, is die van ‘n “vergeetagtige”
vader. Hy is eerstens ‘n swygsame vader, dan ‘n hardlopende vader,
en in die derde plek is die vader ‘n vergeetagtige vader.

Die derde beeld, van ‘n vergeetagtige vader, is treffend. Daar staan
die seun voor hom, met alles wat herinner aan sy vroeëre keuse –
bedelaars klere, varke reuk... Stamelend sy belydenis: “Pa, ek het
teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun
genoem te word nie” – vers 21. Maar voordat hy nog die belydenis
kan voltooi, werp die vader sy arms om sy seun, omhels en soen hy
hom. Daarmee sê hy: Jou sondes is vergewe! Afgehandel!

“Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan” vra die pa aan die
werksmense, en “... sit vir hom ‘n ring aan sy vinger en trek vir hom
skoene aan!” – vers 22. Dit is alles simboliese tekens dat die seun
soos vroeër herstel word in sy posisie as seun en erfgenaam.
Hy hoef nie soos ‘n dagloner vir sy pa te werk nie – vers 19.
Hy neem weer die ere posisie van seun in die familie in.

Die “vergeetagtige” vader... Hoe bly is ons nie hieroor nie.
As die Vader alles moet “onthou” en teen my hou wat ek al teenoor
Hom gedoen het, sou ek nooit na die vaderhuis kon terugkeer nie!
Sy vergewensgesindheid maak Hom “vergeetagtig.” Hy het ons sondes
agter sy rug gewerp – Jes. 38:7 in 1953 vertaling. God bly nie omkyk
na ons sonde nie! God is ‘n Vader wat sondes vergewe en vergeet –
Luk. 15:22-29. In die gelykenis is geen verwyte opgehaal nie.
Die pa vergewe en reël ‘n verwelkomingsfees! – vers 23.
Mag God ons sonde ook so vergewe en vergeet, en as
ons Hom daaraan wil herinner, hy dit nie “onthou” nie!

Ons kan bid: Vader, ek is geneig om U vergifnis te vergeet en my sonde
te onthou. Dankie dat U... U vergifnis onthou, en my sonde vergeet.

Ernest