Die gelykenis van die verlore seun skets vir ons hoe ons Vader ons vergewe,
en met ope arms in liefde terugontvang wanneer ons weggedwaal het.
Ons het gesien die gelykenis skets die Vader in beelde as ‘n vergewende Vader,
as ‘n hardlopende Vader met geopende arms, en as ‘n vergeetagtige Vader
wat sonde vergewe en vergeet!
Die vierde beeld wat ons raak lees in die gelykenis is die beeld van ‘n vrolike
vader. Wanneer die verlore seun terugkeer, begin uitbundige vrolikheid!
“Bring die vetgemaakte kalf, slag hom,” sê die vader, “en laat ons eet en
feesvier! Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore,
en ek het hom teruggekry” – Lukas 15:22, 24.

Hierdie wonderlike gelykenis en beeld herinner ons daaraan dat die Bybel
sê daar is in die hemel blydskap oor één sondaar wat hom of haar bekeer.
Daar is vreugde in die hart van God! Ons het nie ‘n idee hoe groot dit is nie,
vreugde in die hart van God... oor mý wat terugkeer! Daar is ‘n beroering
in sy diepste wese wanneer één sondaar tuiskom. Dit is oorweldigend.
Het jy al teruggekom en die hart van God bly gemaak?

Die vyfde beeld van die vader wat in hierdie gelykenis geskets word is die
van ‘n smekende vader. Hierdie gelykenis gaan oor God se vergewens-
gesindheid – Luk 15:11-32. Binne die vader se huis is daar nou feesvreugde!
Ons beleef iets daarvan net deur die gelykenis te lees.
Maar... buite staan die ouer seun. Hy staan doelbewus buite met sy koue
kil hart oor wat besig is om te gebeur. Binne die huis is daar die warm
vreugde van vergifnis. Buite is daar koue afguns, met die vraag:
Wat beteken al hierdie vreugde? Hierdie seun het in die vaderhuis gebly,
en hy het altyd by die vader gebly. Wat die vader sin was, was syne.
Tog is hy verlore. Hy gun nie sy jonger broer sy vader se onverdiende liefde
nie. Die “goeie” ouer broer is net so verlore as die “slegte” jonger broer
wat in ‘n varkhok opgeland het...

Die vader in die gelykenis is ‘n voorstelling van ons hemelse Vader.
Ons Vader “omhels” en “soen” ons wanneer ons terugkeer na Hom.
Let op wat doen die vader van die gelykenis wanneer die oudste broer
buite bly staan: Die vader gaan wéér uit! Hy het hom sekerlik weer na buite
gehaas, en hy smeek hom. Die Vader in die hemel gaan uit na die jonger
broer én die ouer broer!... na “goeies” en “slegtes”. Hy soen en Hy smeek.
Want so is die hemelse Vader. Kom in. Moenie dat die Vader jou moet
smeek nie... Hy wil jou omhels en feesvier!

Ons kan bid: Vader, bewaar my daarvan dat ek in my “godsdiens” korrek
en koud is. Lei my tot aanbidding en dankbaarheid, om saam met U fees
te vier in ware lewe! Ewige lewe, nou reeds!

Ernest