Hoop is die medisyne wat ons die nodigste het. Hope hoop!
Emil Brunner het gesê: “Soos suurstof vir die longe is, so is
ware hoop vir die sinvolle bestaan van die mens.” Ware hoop
is hoop in God! Die enigste hoop wat nie beskaam nie, is die
wat gevestig word op wat God doen en sê. En in die besonder is
hierdie hoop en geloof gevestig in die opstanding van Jesus
Christus uit die dood. Menslike fondamente kan kraak, en doen
dit ook. Maar die hoop wat groei uit die leë graf van Christus is
vas en seker. Hebreërs praat van die hoop as “’n veilige en
onbeweeglike lewensanker” – Heb. 6:19. En so is dit!

Wanneer ons gebore word, begin ons reeds verouder. Dit klink
soos ‘n teenstelling. Maar ‘n mens kan sê jy word gebore om
eendag te sterf. Dit klink erg. Maar dit is só. Kinderjare en jeugjare
gaan verby. Volwassenheid gaan oor in ouderdom voordat jy dit
heeltemal besef. En in ouderdom beleef ons die aftakeling.
Psalm 91 verse 9 en 18 beskryf iets van die versugting hiervan:
“Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie, moet
my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie. Nou dat
ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen laat nie,
o God.”

Maar God laat ons verseker nie alleen nie! Hy is ewe veel by ons
in elke fase van die lewe. Die ouderdom en die veroudering moet
ons nie moedeloos laat nie. Die gedagte aan die dood moet ons nie
bang, wanhopig of sinies maak nie. Want ons bely die opstanding
van die liggaam! “Ek glo in die opstanding van die vlees...”
Grys hare en min kragte is ‘n werklikheid.
Maar die opstanding van die vlees is die groter werklikheid!

Ons kan bid: Dankie Here, dat ek wat U kind is, nie gebore is
om te sterf nie, maar om ewig by U te lewe. Here, ek is U kind.
Maak my volwasse in die geloof, en sekerheid, en hoop, in U.

Ernest