Die tydjie tussen ons geboortedag en ons sterwensdag is
maar baie kort. In die lig van die ewigheid is dit soos ‘n sekonde.
Psalm 91:10 sê: “Ons lewe maar sewentig jaar, of as ons baie sterk is,
tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons
einde toe.”
Maat iets het gebeur om die sinlose lewe en die graf onherroeplik te
verander: Jesus het uit die graf opgestaan! Ook Hy het in die graf
ingegaan. Ook Hy is gebore om in ‘n sekere sin te sterwe, maar met
dié verskil: Uit sy graf kom die nuwe geboorte. Die ware ewige lewe!
Ons gaan wel die graf in, maar ook anderkant uit!... in Hom!
Die ewige lewe in! Jesus se opstanding het dié weg berei!
Die opstanding van Christus uit die dood waarborg vir ons ‘n
lewende hoop! 1 Petrus 1:3-4 stel dit treffend só... ‘n lewende hoop
“op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis” wat in
die hemel vir ons in bewaring gehou word. Hierdie erfenis sluit die
opstanding van die vlees in. Die liggaam waarmee ons sal opstaan sal
ook onverganklik, onbesmet en onverwelklik wees. Wat ‘n erfenis van
God. Ons is skatryk in God! Ons het ‘n erfenis in die hemel wat nou al
vir ons ‘n nuwe lewe beteken! – 1 Petrus 1:3.
Verheug jou nou al in die rykdom waarin jy leef, wat jy hét,
en wat in volmaaktheid vir jou wag by God.
Ons kan bid: Here, leer my om ooreenkomstig my erfenis by U te lewe.
Nou reeds. Here, leer my om hierdie dag te gryp en dit vir U te lewe
as die voorloper van die lewe by U.
Ernest