1 Korintiërs 15:35 vra die heel menslike vraag: “Hoe word die dooies opgewek?
Watter soort liggaam sal hulle hê?” Paulus verduidelik die misterie aan die hand
van ‘n mooi beeld wat hy gebruik. Hy vergelyk dit met ‘n koringkorrel wat eers
“begrawe” moet word voordat dit kan “lewe”. Eers moet “sterf” voordat dit kan
“opstaan”. Die koringkorrel wat in die grond verdwyn, lyk tog heeltemal anders
as die koring-plant wat daaruit groei en opstaan. Dit het ‘n heel ander gestalte –
en tog kom dit nêrens anders vandaan nie as uit daardie einste koringkorrel!
– 1 Kor. 15:36-37.

Hierdie beeld leer ons veral twee belangrike dinge:
Eerstens, dat die wesentlike van my indiwidualiteit in die opstandingsdag
behoue sal bly. Die koringkorrel word nie ‘n ander plant of onkruid-plant
wanneer dit ontkiem nie. Net so bly ék nog ék. Mense sal mekaar herken.
Wat dit betref word die geskiedenis nie uitgewis nie.
Tweedens, dat aan die ander kant gaan dit ook totaal anders wees.
Met ‘n verheerlikte liggaam, ‘n liggaam deurtrek van die ware Lewe,
van die Gees. ‘n Geestelike liggaam noem Paulus dit in 1 Kor. 15:44.
Met dié liggaam gaan ek God tot in ewigheid aanbid, eer en dien.

Iemand het vir Karl Barth gevra of ons ons geliefdes in die hiernamaals
weer sal sien? Hy het humoristies geantwoord: “Ja, en die ander ook.”
Ons kan nie in die fynste besonderhede praat oor die hiernamaals nie.
Maar een ding weet ons: Ons gaan in gemeenskap met God en met al
die ander gelowiges lewe! Ons word in die opstandingsdag nie
onpersoonlike wesens nie. Ons staan as indiwidue op. Maar ons staan
ook op as volk van God. Ander staan ook sáám met ons op!
Ons gaan sáám leef in heerlikheid by God. Daar sal ware Goddelike
vrede tussen almal wees. Die wil van God sal totaal heers – 2 Pet. 3:13.
Geregtigheid sal heers. Die gemeenskap van gelowiges sal volmaak wees.

Hierdie gemeenskaplike element van die opstanding moet ons geloof
nou reeds versterk. Want ons gaan die triomf van God se genade ook in
ánder mense se lewens sien! Ook in ons geliefdes se lewens.
Hoe wonderlik sal dit nie vir ons wees nie. Onbeskryflik wonderlik!
Dit gaan ons gesamentlike lof en eer en aanbidding van God soveel
meer heerlik maak. Alle dank en aanbidding en eer, van almal, aan God!

Ons kan bid: Hete, saai my soos ‘n koringkorrel en oes my tot U eer.
Skep in my ‘n verlange na die gemeensaamheid van al die gelowiges.

Ernest