Om te vergewe én te vergeet is sekerlik een van die moeilikste menslike uitdagings wat bestaan. Vergewe sal ons dalk nog probeer, maar vergeet? Nooit! Ek sal (jou) onthou! Hiervan is die wêreld tekenend – Rusland/Ukranie, Israel/Palestina, Vergelding… Terugkry… Wag maar…ek sal jou terugkry! In 1908 skryf Totius, een van ons beste volksdigters ‘n gedig hieroor: Vergewe en Vergeet! Die gedig verwoord onder andere die belewenisse van sy moeder in die tweede Anglo-Boere-oorlog asook die belewenis van die Afrikanervolk na die voorwaardelike oorgawe aan Engeland in die Driejarige oorlog 1899 tot 1902. ‘n Gedig wat die Afrikaner-hart laat smeul en treur. Van die eerste gedigte in egte Afrikaans! Die gedig se naam is Vergewe en Vergeet, met die inleiding uit Deuteronomium 4:9: ‘Dat gij niet vergeet de dingen die uwe oogen gezien hebben.’ Hoe sal ons die hartseer en byna uitwissing van ons volk vergeet?

Vergewe en Vergeet

Daar het ʼn doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.

Een eendag kom daarlanges
ʼn ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.

“Jy het mos, doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap.”

Die ossewa verdwyn weer
agter ʼn heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.

Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.

Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.

Ook het die loop van jare
die wonde weggewis –
net een plek bly ʼn teken
wat onuitwisbaar is.

Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.

Sekerlik een van die mees aangrypendste gedigte ooit! ‘n Opsomming van die konfrontasies (eerste en tweede Anglo-Boere – oorloë) tussen die destydse magtige Engeland en opkomende boere-volkie – die Afrikaners. In die eerste konfrontasie het die Boere gewen, maar in die tweede moes ons voorwaardelik oorgee, ter wille van die behoud van ‘n volk – die merk (amper uitwissing) wat al groter word… Dit lei tot bitterheid en vergelding. Vergewe, maar nooit vergeet!

Die vraag natuurlik is, is DIT vergewe en vergeet? Christelike vergifnis lyk heel anders. En miskien sal dit ons en die res van die wêreld bevry as ons die hart daarvan verstaan? “…en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” sê Efesiërs 4:32. En hoe het God vergewe? Hy het sy Seun Jesus Christus laat betaal vir elke onreg en ongeregtigheid wat mense teen mekaar doen, sodat ons werklik vry kan kom en kan vergewe en vergeet! Nie omdat daar nie onreg gepleeg is of word nie, maar omdat dit juis die rede is hoekom Jesus Christus gekom het… om elke mens se skuld te betaal. En dan vergewe ons… en vergeet ons, nie omdat daar nie onreg is en was nie, maar omdat Jesus juis gekom het om te vergewe, en dit nooit teen ons hou nie! Daarom was sy eerste gebed aan die kruis: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!!!” God het jou vergewe - Wie is daar wat jy moet vergewe – en kies om die onreg te vergeet, omdat Jesus Christus reeds daarvoor betaal het, en jou van harte vergewe het?

Vrede!

Nelius