Kinders van God leef deur geloof, nie deur sien, verstaan of insig nie. Ons sien nie alles raak nie en verstaan eintlik maar bitter min. Vertroue is om te glo en te “weet” dat God in beheer is, ten spyte van wat ook al. En om dan met geloof, gehoorsaamheid en vertroue daarop te reageer. Dit is iets wat die Rigter Gideon moes leer en na vele lesse eers besef het. Gelukkig vir hom en vir ons was God getrou en genadig en het Hy nie met Gideon opgegee nie. Soos Hy ook nie met my en jou opgee nie! Inteendeel, Hy het in Gideon geglo, al het Gideon nie in homself geglo of aanvanklik op God vertrou nie.

Gideon was, soos die Engelse sou sê, in “Dire Straits” – ‘n doodloopstraat. Nie net hy nie, maar ook die volk waarvan hy deel was. Weens ontrou aan die Here, het God sy volk in die ongenadige hande van die Midianiete en Amelekiete oorgegee. Mense so baie en vernietigend soos sprinkane, wat Israel se bestaan verwoes het. Hulle het nie één dier van die Israeliete lewendig gelaat nie, en die Israeliete moes vlug en in die berge en grotte gaan bly (Rigters 6).

En toe roep hulle na God om hulp – iets wat ons tog by hulle moet leer. En Hy verhoor hulle gebede. Gideon, magteloos, moedeloos, uitgemergel, besig om in ‘n parskuip (plek waar druiwe uitgewan was) weg te kruip vir die Midianiete en koring uit te slaan. Hier ontmoet hy die Engel van God, waarskynlik God self – en die Engel groet hom met hierdie bemagtigende en bemoedigende woorde: “Die Here is by jou, dapper man!” (Rigters 6:12). Vreemde, onvanpaste woorde vir ‘n verslae, siniese man wat wegkruipertjie speel met die vyand.

Gideon reageer met venyn en sinisme. Hy hoor nie eers die kompliment oor sy dapperheid nie. Vuisvoos- en plat geslaan antwoord hy:  “As die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons?” Het jy ook al so gevoel? Gideon glo nie in God nie, en nog minder in homself. Hy sien geen hoop in die toekoms nie, maar veg net om oorlewing. En dan openbaar die Here sy goedheid en genade aan Gideon met die grootste geduld. Vier tekens wat Hy telkens vir hom gee: Eers verteer hy met vuur die offer wat Gideon bring, (daarna skep Gideon moed en vernietig hy die Baäl-afgode), dan sit hy wol op die grond wat nat dou terwyl die wol droog bly, en omdat hy nie sy oë kon glo nie, ook andersom – wol op die grond wat droog bly terwyl die aarde daar-rondom nat is. 

En so bevetig God aan Gideon sy trou. In sy oneindige genade gee God aan Gideon ‘n laaste teken toe Gideon met driehonderd man uit tienduidend optrek om die Midianiete te verslaan. Steeds twyfel hy, hy het immers tienduisend weerbare manne huis toe gestuur, totdat hy en sy slaaf vyftig tree in die Midianiete en Amelekiete se kamp ingaan, hulle was terloops so baie soos sprinkane en die sand aan die see. Tog gee God aan hom nog ‘n teken – hulle hoor die uitleg van ‘n droom van een van die vyand. ‘n Droom van ‘n rollende garsbrood wat dui op die oorwinning wat God aan Gideon sou gee.

En die res is geskiedenis. Op die ou end was Gideon ‘n dapper held, nie uit sy eie nie, maar omdat God in hom geglo het – en hy geleer het om op God te vertrou! Wat is die aanvegtinge, worstelinge en struikelblokke in jou lewe? Wat sal gebeur as ons dit vir die Here gee en aan Hom oorlaat? Wat sal gebeur as ons soos Gideon, ten spyte van ons kleingeloof, ongeloof en swakheid, die Here toelaat om in en deur ons te werk? Die Here is by jou, dapper man/vrou! Onthou dit!

Vrede!
Nelius