Die seën van God is ‘n snaakse- en kontroversiële konsep. Baie mense dink dat om deur God geseën te wees of te word, maak van jou ‘n besondere persoon, of beteken jy is ‘n besondere mens. ‘n Geseënde, begaafde, besondere mens! Maar die seën van God beteken eintlik iets heeltemal anders. Dit gaan oor die roeping wat God vir ons gee! Jy sien, die probleem is dat ons dink dat God se seën iets met ons menswees, eienskappe, vermoëns, gawes of prestasies te doen het. Dit is glad nie so nie. Inteendeel!

Wanneer God Abram, later Abraham, roep en seën, gaan dit definitief nie in die eerste plek oor Abram nie. En wanneer Hy sy seën aan Abram bevestig en later ook aan sy nasate, die ander aartsvaders Isak en Jakob belowe, gaan dit nie oor hulle gehoorsame en voorbeeldige reaksie op God se genade nie, maar gaan dit oor die pad wat God met hulle en hulle nageslag wou loop. Die effek wat Hy wou hê in en deur hulle lewe. Die roeping wat Hy vir hulle gee! En so is dit ook met jou en met my.

Wat behels God se seën dan? Dat jy ‘n besondere mens is, of eerder dat God jou kies om besonders op te tree? Wanneer God dan met Abram ‘n ooreenkoms, ‘n verbond aangaan, belowe Hy hom dat Hy hom en sy nageslag sal seën. Hy sal aan hom die beloofde land gee, en ‘n nageslag so talryk soos die sand van die see. Die landsbelofte en die belofte van ‘n nageslag. Maar sê Hy vir hom: “Jy moet tot seën wees!” “Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot seën wees. Ek sal seën wie jou seën en hom vervloek wie jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.” (Genesis 12:2+3). Net so beveel God Aäron en sy seuns in Numeri 6:23-26: “So moet julle sê wanneer julle die Israeliete seën:...” (Gaan lees gerus die inhoud van hierdie priesterlike seën.) En dan beloof Hy: “So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.” (27).

Wat ‘n belofte en wat ‘n vooruitsig! Die krag en belofte lê nie in die priesters nie, maar in God wat seën! Maar waarom doen die Here dit? Omdat Abram, die Israeliete, of en ek en jy besonders is? Nee! Glad nie! Omdat Hy ‘n spesifieke pad en plan met ons in gedagte het! In Genesis 15 bevestig God sy verbond met Abram. En dan sluit (sny) God met Abram ‘n verbond. Abram moet ‘n vers, ‘n bok en ‘n skaapram. ‘n tortelduif en ‘n jong duif as offer vir die Here bring en dit middeldeur sny – dit was die teken van ‘n verbond wat tussen God en mens gesluit word. Dan moes die twee partye, God en mens, tussendeur die stukke vleis deurloop as teken dat dit is wat met jou sal gebeur as jy nie jou kant van die ooreenkoms nakom nie.

Abram weet egter dat hy nooit van sy kant af sy deel sal kan doen nie, en ‘n groot angs en diep slaap oorval hom. En dan gaan God tussen die vleis deur met vuur as teken dat Hy altyd getrou is en getrou sal bly, ten spyte van ons, die mens se ontrou! Wat ‘n troos vir Abram en vir ons!!!

Kom ons kom dan terug by God se bedoeling met sy seën. “Ek sal jou seën, maar jy moet tot seën wees”! Is jy tot seën? Wat maak jy met die seën en genade wat die Here vir jou gee? En as jy dan telkens met ‘n erediens of uit God se Woord, of in die loop van jou lewe die seën van God ontvang, onthou – dit gaan nie oor hoe goed jy is of hoe goed dit met jou sal gaan nie, maar oor die goed/goedheid wat God (nie net in jou nie), maar ook deur jou in die lewe van ander mense wil bewys. Gaan wees tot seën!

Vrede!
Nelius