Dit is sekerlik een van die mees kontroversiële sake in die Christelike geloof... Die doop. Verskoning as ek mense affronteer. ‘n Mens sou kon onderskei tussen ten minste ses verskillende sienings van die doop. Die eerste wat ons summier uit die pad kan kry, is dat ‘n mens gedoop word/is in die naam van die stigter van ‘n spesifieke kerk/denominasie. In sommige Afrika-tradisies, word mens in God (Drie-enig) se Naam, maar ook in die die naam van die “stigter” van die kerk gedoop. Dit is natuurlik onbybels en kettery. Jy behoort aan die Here of nie, nie aan ‘n pastoor, predikant, apostel of ‘n kerkgenootskap nie.

Die tweede gedagte oor die doop sou kon gaan oor Jesus Christus wat deur Johannes die Doper, gedoop is. Baie mense gebruik dit dan as hulle siening en definisie van die doop, asof ek en jy ook so gedoop sou kon word. Ons Here Jesus Christus word deur Johannes die Doper gedoop, weliswaar na teenspraak en teëstand, om te wys dat Hy die Seun van God is. Dit gaan oor die aanwysing en aanduiding van die identiteit van Jesus Christus ons Here. En hier, anders as by die res van die verduidelikings van die doop, gaan dit nie oor die afwassing van sonde nie, maar oor Wie Jesus is. Indien mense aandring dat ek en jy ook soos Jesus gedoop moet word, gaan ons dieselfde pad as Hy moet loop en ook soos Hy gekruisig moet word. Die bedoeling van Jesus se doop is duidelike anders. Hy word aangedui as die Seun van God! By ons gaan dit onder andere oor die afwassing van sondes, maar by Hom was daar geen sonde nie.

En dan is daar die bekeringsdoop, die teken en erkenning dat ek en jy na God moet draai – die besef van skuld en sonde – die doop waarmee Johannes die Doper gedoop het. Dit was natuurlik nie vreemd in die destydse wêreld nie. In Handelinge 19 kry ons ‘n voorbeeld hiervan. ‘n Wete dat ek en jy skuldig en sondig is, en skoon gewas behoort te word. ‘n Erkenning van my skuld en sonde. En natuurlik is dit relevant vir elke mens, maar weliswaar nie uniek aan die Christelike godsdiens nie. Talle godsdienste het dieselfde praktyk, en so ook Christenskap nog voor Jesus gekruisig is en en opgestaan het.

En dan, die doop met die Heilige Gees wat al baie diskrepansie en konflik in die Christelike kerk veroorsaak het. Ontvang ‘n mens God dan in paaiemente? Is daar ‘n tweede seën nodig, voordat ons gered kan word? Of het jy die Gees as jy aan Christus behoort en het die Gees jou in Jesus Christus (Romeine 8:9-11). In Handelinge lees ons dat God sy kerk seën met die uitstorting van die Heilige Gees. Dit is die doop met die Heilige Gees. Hier is daar geen menslike prestasie nodig nie, maar slegs God se werking en seën op sy kerk. En dit laat ons met twee verdere perspektiewe op die doop. ‘n Punt van baie verdeling en stryd. Ons ken dit as kinderdoop en grootdoop, beide foutiewe beskrywings. Die kinderdoop sou eerder met verbondsdoop en die die grootdoop met belydenisdoop bekryf kon word. Gaan dit oor God se keuse vir ons, of ons keuse vir Hom? Of beide?

Hoe dit ook al sy, enige en alle wyses van doop is tekens van God. Hy neem die inisiatief! Sakramente, geloofversterkende tekens van God. Ons kerk erken altwee. Die doop is en bly ‘n teken van God, of jy dit nou vanuit God se oogpunt – Verbondsdoop of die mens se oogpunt – Belydenisdoop sou wou sien. God belowe sy liefde, genade en teenwoordigheid aan ons (ongeag van ouderdom of stand) en ons antwoord op sy liefde en genade (belydenis). Verbondsdoop is ekwavilent aan toewyding of inseëning in ander tradisies en belydenisdoop ekwivalent aan belydenisaflegging. Christenskap omvat beide: Die belofte van God se keuse vir jou en jou aanvaarding daarvan. Gaan leef dus vanuit jou doop, ongeag van watter kant af jy dit sien! Die punt is, God het Hom aan jou verbind! Aanvaar sy keuse vir jou en leef daaruit!

Vrede!
Nelius