"Wees stil en weet
dat EK God is!
Ek sal verhewe wees bo die nasies!
Ek sal verhewe wees bo die Aarde!"
(Psalm 46:11 eie vertaling)

Die Hebreeuse woord vir "wees stil" is "rafá".
Dit beteken letterlik "om jou spiere slap te maak".

Die beeld hier is van 'n soldaat wat gespanne wag vir 'n vyand,
'n vyand wat enige tyd kan toeslaan.
Sy spiere is styf getrek van afwagting en bekommernis.
Skielik kom daar 'n ander soldaat aan om hom af te los,
hy blaas 'n sug van verligting uit,
hy kan uiteindelik ontspan,
sy spiere word slap.

Die Here gee vir ons elkeen 'n stryd om te stry,
maar Hy gee ons ook die krag om dit te stry,
en dan nog 'n belofte ook:
Hy sal nooit toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. (1Kor 10:13)

Maar soms raak ons kragte net op,
die uitdaging raak net te veel.

Dan tree God self in.
Hy is die aflos-soldaat!
En dan sê hy vir ons:
"Jou stryd is verby!
Nou hoef jy nie meer te veg nie,
laat jou spiere slap!
Ek is God,
Ek sal oorwinnaar wees oor elke dreigement,
Ek sal oorwinnaar wees in elke stryd!"

Die volk Israel is voor die Rietsee,
Farao se leër is agter hulle.
Die volk is gespanne,
te swak om terug te baklei,
hulle wonder of hulle weer slawe gaan word,
en of hulle nie eerder doodgemaak gaan word nie.

Dan sê Moses vir hulle hierdie woorde:

"Die Here sal vir julle stry,
en julle moet stil wees!" (Eks 14:14)

Ashton