Die Bybelse-, of eerder, Christelike vrede is ‘n ander vrede as die vrede van die wêreld. Dit is iets wat ons nooit genoeg oor kan praat nie. Die wêreldse vrede is op die meeste ‘n wapenstilstand tussen volke of groepe of ‘n tydelike maatreël totdat ‘n ander groep weer die konflik begin. Dit sê Jesus al vir sy dissipels en vir ons in Johannes 14:27: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie en julle moet nie bang wees nie.”
Dit beteken natuurlik nie dat die wêreldse vrede niksseggend of betekenisloos is nie. Ons moet nooit ophou om vir vrede te bid nie. Die vredestyd wat deur die Romeinse oorloë gebring is, die Pax Romana, wat destyds kommunikasie wêreldwyd moontlik gemaak het, het God byvoorbeeld gebruik in die volheid van die tyd om sy Seun na die wêreld te stuur en so die Evangelie, die Goeie Nuus van verlossing met mense te deel. Maar menslike vrede is tydelik en voorwaardelik en moet soms selfs deur geweld en vrees afgedwing word. Baie later het selfs die magtige ryk van Rome tot ‘n val gekom, ten spyte van ‘n sogenaamde vrede.
Hoe lyk die Bybelse vrede dan? Ten diepste is dit ‘n gawe. Dit is nie iets wat ‘n mens of mense skep of stand bring nie. Dit is iets wat God aan ons gee. Eintlik gee Hy Homself aan ons, en dit bring in ons harte en gedagtes ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan. M.a.w. ‘n vrede ten spyte van... Ten spyte van ons, ten spyte van ander. ten spyte van ons omstandighede en bekommernisse, ten spyte van ons belewenis of onmag. En so sou ons kon aangaan...
Hy gee aan mense berusting en die belofte dat Hy vir ons sorg en sal sorg, onder alle omstandighede! Dat Hy ons tot rus sal laat kom, of in die bekende psalm se woorde sal bring by waters waar daar vrede is (Psalm 23:2). Ongeag van my omstandighede, gevoel en belewenis gee God aan my en jou die troos en versekering dat Hy altyd by ons is en sal wees. Hy is ons vrede!
En dan word hierdie vrede (en vertroue op God) natuurlik ook ‘n roeping. Wanneer Jesus sy dissipels uitstuur in Lukas 10:5 beveel Hy hulle en ons, ‘As julle in ‘n huis kom, moet julle eerste woorde wees: “Vrede vir hierdie huis.”’ en in Matteus 5:9 sê Hy “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Ons menslike eerste gedagtes of woorde is waarskynlik nie ‘n vredeswens nie, maar as kinders van God kan en moet ons ook vrede bring.
Jesus gee dus nie net aan ons sy vrede ter wille van onsself nie, maar maak dit ‘n deel van ons taak, voorreg en roeping in hierdie wêreld, om vrede te maak en vrede te bring. Belangrik egter om te onthou dat dit dan God se vrede is wat ons toewens of bid, wat nie uit onsself kom nie.
Die vraag is, het jy vrede! En het God se vrede jou? Is God jou vrede ten spyte van...? Ons gaan nie op ‘n ander manier vrede vind of vrede kan maak nie. Kom ons buig in gebed voor Hom en bid dat sy vrede oor ons harte en gedagtes die wag sal hou.
Mag God se vrede jou vashou!
Vrede!
Nelius