Geloof, hoop en liefde is drie van die basiese boustene van die christelike geloof wat Christenskap uniek maak. In 1 Korintiërs 13 wy Paulus ‘n hele hoofstuk aan hierdie drie gawes. In die vorige hoofstuk sê hy dat ons ons op die beste genadegawes moet toelê en dan dan eindig 1 Korintiërs 13 met hierdie uiteensetting van die genadegawes: “En nou, geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie en die grootste hiervan is die liefde!”
Kom ons dink ‘n oomblik na oor geloof. Wat is geloof? Hebreërs 11:1 gee vir ons ‘n skitterende definisie wanneer dit geloof soos volg beskryf: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Wow! Dit bring die twee teenoorstaande pole van geloof bymekaar: Aan die een kant is geloof ‘n sekerheid, aan die ander kant is geloof onsigbaar. ‘n Vaste kennis én ‘n oortuiging! ‘n Vaste wete, maar ook ‘n geloofsoortuiging...
Geloof is ‘n gawe van God. Dit is nie iets wat ons as mense uit ons eie uit kan doen nie. Dit is ‘n vermoë wat God as genadegawe aan ons skenk. Dit beteken dat ons dit nie kan verdien of uit ons eie kan regkry nie, maar dat God dit vir ons moontlik maak om te glo. Dit is in hierdie konteks wat 1 Korintiërs 13 oor geloof, hoop en liefde skryf. Dit is die grootste genadegawes van God, met ander woorde, geskenke van God wat Hy aan ons gee, wat eintlik die kern van ons christelike geloof uitmaak. In die Heidelbergse Kategismus leer ons dat geloof ‘n vaste kennis en ‘n seker vertroue is. Die kennis is natuurlik nie ‘n blote rasionele kennis/wete nie, maar ‘n verhoudingskennis wat dan bou op die sekerheid/vertroue dat ons aan God behoort en dat Hy vir ons sorg. Ons leef in ‘n lewende verhouding met die liefdevolle God!
In die eerste plek is geloof dus ‘n absolute vertroue op God. Dit impliseer dat godsdiens, in terme van christenskap ten minste, ten diepste, ‘n verhouding is! Dit gaan nie oor die verstaan of die vermoë/insig van ‘n mens nie, maar om op God te bou en op Hom te vertrou! Geloof is nie om te verstaan nie, maar om te vertrou. Geloof is nie om te sien of in te sien nie, maar om seker te wees dat die onsienbare en onsigbare God my ganse lewe en my lot in sy hand hou. Geloof is egter ook ‘n oortuiging wat ons het, ‘n keuse wat ons maak om op God te vertrou. Die hand waarmee ons God se genade vasgryp.
Wanneer die ander dissipels vir Tomas sê: “Ons het die Here gesien!” antwoord hy met ongeloof en kleingeloof: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” (Johannes 20:25). En wanneer Jesus hom en my en jou dan genadig is en Homself aan ons openbaar, en Tomas Hom herken en erken as “My Here en my God”. sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy my sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Johannes 20:29).
Glo jy? Is jy gelukkig? Glo jy al kan ons God nie sien of verstaan nie? Is jy ‘n gelowige? Gaan dan op jou knieë en sê vir God dankie vir die gawe van geloof. Kies om op Hom te vertrou, al verstaan ek en jy eintlik maar bitter min van hierdie lewe! En dank God vir die gawe van geloof!
Vrede!
Nelius