Dit klink nie vir die wêreld reg nie,
maar in swakheid is daar krag.
Dit is een van die paradoksale waarhede van die Evangelie!
Dit is ‘n waarheid wat gelowiges, en die kerk, deur eeue gedra het.
Ons sien die waarheid ook in die verhaal van Gideon.
Hy moes in opdrag van God sy manskappe minder maak,
voor hulle die Midianiete kon verslaan.
Ook die verhaal van die jong Dawid, wat die reus Goliat aandurf.
Met net vyf klippies, en vertroue op God!
Die waarheid bereik sy hoogtepunt op Golgota.
Daar waar Jesus, weerloos aan die kruis, die Bose verslaan!
Hieroor skryf Paulus aan die Korintiërs:
“Wat vir die wêreld die onsin van God is,
is groter wysheid as die wysheid van mense,
en wat vir die wêreld die swakheid van God is,
is groter krag as die krag van mense!” 1 Kor. 1:25.
Dit geld ook die kerk deur die eeue.
Wanneer die kerk in verdrukking is,
en op die swakste lyk vir die wêreld,
groei die kerk hand oor hand!
In die vorige eeu het dit in China gebeur.
Toe die regering die kerk probeer uitroei het,
het dit tot oor die honderd miljoen gegroei.
Ook in kleiner gemeentes se oënskynlike swakheid, lê groot krag!
Groter en sterker, is die strydkrete van ons dag.
Maar Paulus skryf aan die Korintiërs dat, wat swak is,
deur God gekies is om die sterkes te beskaam.
In swakheid verstaan ons beter om op God alleen te vertrou.
Ons wat die skat van die Here in ons dra,
“…is maar kleipotte wat maklik breek;
die krag wat alles oortref, kom dus van God,
nie van ons nie.” 2 Kor. 4:7.
Ernest