"Net so staan die Gees on ook by in ons swakheid,
want ons weet nie wat ons behoort te bid nie,
maar die Gees self staan vir ons in met woordelose versugtinge".
(Rom 8:26 - eie vertaling)

In Romeine 8 dink Paulus aan die twee pole van ons bestaan.
Aan die een kant is die verganklike wêreld.
Vol sonde.
Vol swaarkry.
Tydelik.

Aan die ander kant is die ewige heerlikheid saam met Christus,
wat vir alle gelowiges wag.
Vry van sonde.
Vry van swaarkry.
Verewig!

Paulus dink aan die tyd tussen hierdie pole.
Die swaarkry wat ons almal eers moet deurgaan,
voor ons die oorwinning kan behaal.
Soos 'n swanger vrou wat eers deur geboorte pyne moet gaan,
voordat sy haar kindjie kan geniet.
Soos 'n atleet wat eers sy longe moet hardloop,
voor hy die glorie van 'n oorwinning kan geniet.

Dit is in hierdie "tussen-in-tyd" wat die Heilige Gees ons help.
Hy hardloop nie die resies vir ons nie,
hy gee ons die krag om dit self te voltooi.

Een manier is deur
elke sug,
elke versoek,
elke eina,
waarvoor ons nie eens woorde het nie,
na God toe te bring.

Dit is bevrydend!
Ons kan bid,
al sê ons nie woorde nie.
Ons hoef nie te weet waarvoor om te bid nie,
want God sien alles,
selfs dit waarvan ons nie weet nie.

"Moenie angstig oor enigiets wees nie,
maar in alles,
met gebed en smeking met danksegging,
laat AL julle versoeke aan God bekend word!"
(Fil 4:6)

Ashton