Sara en Abraham ontvang op ‘n hoë ouderdom die nuus dat hulle oor ‘n jaar ‘n seuntjie gaan hê. Maar Sara is gladnie so seker hiervan nie. Genesis 18:12 “Sara het stilletjies gelag en gedink: Kan ek nou nog lus wees om by 'n man te slaap? Nee, ek is te oud en my man ook”

Na ‘n tyd besluit Sara om haar eie plan te maak en gaan vertel vir haar man daarvan. Genesis 16:2 “Toe sê Sarai vir Abram: “Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Gaan slaap by my slavin. Miskien bring sy 'n kind in die wêreld wat my eie kan word.” En Abram het saamgestem met sy vrou. Hagar raak swanger en bring vir Ismael in die wêreld. Sarai bly nie lank tevrede met die situasie voor die groen monster sy verskyning maak nie, en nadat Isak gebore is vra sy dat Abrham vir Hagar moet wegjaag. Sy wil nie hê dat Hagar se seun saam met Isak moet erf nie. Geensins is God se plan in die wiele gery nie want God se plan is “Jesus” wat ‘n ganse mensdom sal kom bevry van die slawerny en juk van die sonde. Efesiërs 1:8-11...” wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.” So ver en wyd en diep is God se gedagtes bo ons sin. Die verhaal van hierdie twee vroue beteken meer. Hulle is soos twee verbonde. Die een vrou Hagar is soos die verbond wat die Here op Sinai-berg gemaak het. Hierdie verbond maak dat mense slawe van wette word. Isak is die vrygeborene. God wil almal vrymaak. God voorsien vir Hagar en Ismael. Nadat Hagar gedink het dit is klaar met haar en die kind wat in die Berseba woestyn rondswerf, neem Hagar die seun ‘n end van haar af en gaan lê hom onder ‘n bos omdat sy hom nie wou sien sterf nie. God sien haar raak. En stuur ‘n engel uit die hemel na haar en die kind.

Genesis 21:19 Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom 'n groot nasie laat word.”

Toe het God haar oë oopgemaak en sy het 'n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee” Soms dink ons ook dit is klaar met ons. Die einde het aangebreek. Daar is geen uitkoms uit hierdie situasie nie. Ons loop met ‘n sware vrag, ‘n juk wat ons plat druk en die lewe uit ons wurg. Ons vergeet daar is nog altyd God! Hy sien ons raak en ontferm Hom oor ons. Uit onverwagte oorde stuur Hy soms ‘n engel om ons op te tel en te troos. Hy laat ons ‘n uitweg sien soos die put vir Hagar wat sy nooit raakgesien het nie. Psalm 46:2 “God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.”Vlug met jou probleme na God en wag geduldig op die uitkoms. Vra Hom om jou geestelike oë te open dat jy die weg sal sien waarlangs jy moet gaan.

Psalm 32:8 “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.”

~Marie