Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
"Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort"
"Troos" ("consolatio" in Latyn) verwys na:
"dit wat oorbly as alles weggeneem word".
Dit is die "ten minste het ek nog" van die lewe.
Deur die eeue heen het filosowe agter gekom
dat die dinge wat hulle vreugde bring,
uiteindelik sal vergaan.
Geliefdes sterf.
Rykdom vergaan.
Gesondheid kwyn weg.
Mense vergeet jou.
Is dit dan nog die moeite werd om heirdie dinge na te jaag,
as dit net vir 'n rukkie gaan hou?
Is daar nie iets beter wat vir altyd sal hou nie?
Daarom het ghoeroes en filosowe hul na "interne skatte" gewend.
Al die eksterne dinge soos rykdom kan vergaan,
maar 'n mens se deugde bly staan.
Jy kan dalk arm word,
maar ten minste is jy nie 'n dief nie.
Mense gaan jou valslik beskuldig,
maar ten minste weet jy dat jy altyd die waarheid praat.
Maar wat as jy misluk?
Wat as jy nie meer kan sterk staan nie?
Wat as jy jou beginsels prysgee en tog maar lieg of steel?
Wat as jy jou menswaardigheid prysgee ter wille van oorlewing,
of om mense se aanvaarding te kry,
of ter wille van 'n drank of dwelm-verslawing?
Wat as jy selfbeheersing verloor,
en mense verskreeu en ondeugsaam optree?
Dan, my liewe vriend, bly die trou en liefde
van ons God en ons verlosser Jesus Christus oor.
Dan bly die wete oor dat:
in al hierdie dinge,
is Hy steeds met ons,
is Hy steeds in beheer,
is Hy steeds besig om ons nader en nader aan Hom te bring.
"Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie?
En tog sal nie een van hulle op die grond val
sonder die wil van julle Vader nie.
Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.
Moet dan nie bang wees nie.
Julle is meer werd as baie mossies.”
(Mat 10:29-31)
Ashton