Ons bid dikwels dat iemand moet verander.
Is dit nie dalk ék nie?
Is dit nie ekself wat krities is, en dominerend, en negatief,
manipulerend en selfsugtig nie?
Dikwels is dit omdat ons alles “weet”,
maar die Here is nog nie Hére van my hele lewe nie.
Daar is ‘n groot verskil tussen die twee dinge.
Om te “weet”, of om dit wat jy weet, te “leéf”.
Kyk mooi wat sê Johannes 8:31-32:
“Julle is regtig My volgelinge as julle glo wat ek sê.
Hou vas daaraan en leef daarvolgens.
So sal julle ontdek wat vir God belangrik en sinvol is.
En hoe meer julle dit ontdek,
hoe meer sal julle word wat God julle gemaak het, vry mense.”
Let op Jesus se woorde:
“Hou vas daaraan en lééf daarvolgens….”
Die proses hou net nooit op nie.
Juis dit motiveer ons om nie moedeloos te word nie,
maar aan te hou groei!
Johannes 16:13 sê die Gees sal ons hand vat,
en ons met die paaie van die waarheid langs lei.
God hou nooit op om aan ons te skaaf nie.
Daarom word ons nie moedeloos met onsself nie!
Máár:
Is ek bereid om te bly groei?
Dit is nie altyd maklik om die waarheid oor myself te hoor,
of te erken nie.
Ek is dikwels blind vir my eie foute.
Dit is asof hulle in die blinde hoek van my spieëltjie lê.
Ek wil oop voor die Here staan,
gestroop van my eie vooroordele oor myself.
Dat ek so goed is, of so sleg….
Ek wil die Heilige Gees vra om my te lei in die waarheid oor myself.
En so wil ek elke dag groei en groei….
Om meer en meer soos Jesus te word.
Ernest