"Groet mekaar met 'n heilige kus"
(Rom 16:16 en 1Tess 5:26)

Die Grieks vir "groet" (aspazdomai) verwys na die proses
om iemand te omhels en te soen,
om hulle welkom te heet binne jou vriende-kring -
'n kring van gelykes.
Dit het ook beteken dat daardie mense voorneem
om gasvry teenoor mekaar op te tree.

Ryk mans, het ander ryk mans gesoengroet;
slawe, ander slawe;
Jode, ander Jode;
Grieke ander Grieke.

Dit was ongehoord dat ryk mense slawe sou soengroet,
Of dat Jode, Romeine of Grieke sal soengroet.
Dit was totaal onaanvaarbaar vir mans en vroue om mekaar te soengroet,
al was hulle familie!
Om oor sosiale grense te soengroet,
het 'n mens "onheilig" gemaak.

In Romeine 16 lees ons hoe Paulus die gemeente van Rome beveel
om mekaar te soengroet.
Dan noem hy elke persoon wat so gegroet moet word op die naam.
Ons lees die name van mans, vroue, Jode, Grieke, Romeine, slawe en ryk mense.
Almal in een gemeente.
En dan noem hy hierdie oortreding van sosiale grense:
"heilig".

In die vroeë kerk was hierdie praktyk een van die dinge wat Christene "anders" gemaak het.
Vir Christene was gasvryheid nie beperk tot mense van dieselfde sosiale stand nie.
Dit was nie beperk tot mense wat iets vir jou kon terug doen nie.
Christene het verstaan dat die Here van hulle gasvryheid vereis,
nie soos die wêreld dit verstaan nie,
maar soos Christus ons leer:

"En indien julle slegs julle broers sou groet,
watter buitengewone daad doen julle dan?
Doen die heidene dit nie ook nie?"
(Mat 5:46)

Ashton.