"Toe het hy op sy knieë neergesak
en hard uitgeroep:
'Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie'
Met hierdie woorde het hy gesterwe"
(Hand 7:60)
So bid Stefanus vir die mense wat besig is om hom te stenig.
Voor dit was hy 'n diaken in die kerk in Jerusalem.
Die kerk het teen 'n buitengewone pas gegroei.
Tussen 5 en 10% van die hele stad het al aangesluit by die kerk.
Baie sinagoges en Joodse leiers het bedreig gevoel daardeur.
Om die groei van die kerk te stuit,
sou hulle 'n voorbeeld maak van een van haar leiers.
Stefanus was die verkose slagoffer.
Hulle sleep hom hof toe,
met die aanklag dat hy godslasterlik is.
Hulle gee vir hom 'n kans om homself te verdedig,
maar hy weet dat hulle reeds besluit het om hom dood te maak.
Stefanus gebruik eerder hierdie geleentheid,
sy laaste woorde,
om vir hulle te wys dat hulle op die verkeerde pad is.
Dit maak hulle briesend kwaad,
en hulle stenig hom.
Tot op die laaste,
het Stefanus nie moed opgegee dat hierdie mense,
die mense wat hom vermoor,
na die Here toe sal draai nie.
Hy vergewe hulle,
nie omdat dit vir homself bevryding sou bring nie.
Nee,
hy is besorg oor die bevryding van dié wat hom vermoor.
Stefanus het geweet,
waar die Gees van die Here werk,
is daar nie iets soos 'n "verlore saak" nie.
Geen mens is te verlore nie.
Geen mens is op 'n plek,
waar God hom nie kan uittrek nie.
Een van hierdie mense waarvoor Stefanus so bid,
was Paulus,
Wat die mees invloedryke sendeling in geskiedenis sou word.
Ashton