"U ken my sit en my opstaan;
U verstaan van ver af my gedagtes;
U deurvors my gaan en my lê,
en U is met al my weë goed bekend!"
(Psalm 139:2-3)
Dawid bid hierdie terwyl sy hart vol haat is teenoor sy vyande:
"Ek haat hulle met 'n volkome haat;
vyande is hulle vir my!" (v22)
Duidelik loop hy al 'n rukkie met hierdie wroeging in sy hart.
Dis dalk gedagtes wat hy eerder van God sou wou wegsteek.
Dan besef hy daar is nêrens waar hy iets van God kan wegsteek nie.
Daar is nêrens waar hy van God kan wegkruip nie.
Vra maar vir Jona!
Hierdie besef van God se alwetendheid is bevrydend vir Dawid!
Hy besef daar is nie 'n enkele deel van menswees
waarin God afwesig is nie.
Hy besef daar is nie 'n enkele gedagte of wroeging
waarin God nie ook teenwoordig is nie.
Om dit te erken,
haal 'n reuse las van Dawid se skouers af!
Hoeveel keer het ons nie ook wroegings nie,
hoeveel keer verloor ons nie balans in ons eie lewe nie.
En dan probeer ons om vir God te vermy!
Ons stel ons stiltetyd uit,
en knip ons gebede kort,
want ons gedagtes voel nie vir ons "Christelik" nie.
Ons dink God wil nie daarvan hoor nie,
en dan wroeg ons alleen met hierdie gedagtes.
Moet ons nie juis met hierdie gedagtes na God toe gaan nie?
Hy ken dit reeds!
Die erediens begin altyd met 'n votum -
'n oomblik waar ons stil raak en bewus word van God se alomteenwoordigheid
en alwetendheid.
Tydens die votum bid ons saam met Dawid:
"Deurgrond my, o God,
en ken my hart;
toets my en ken my gedagtes;
en kyk of daar by my 'n weg is van smart,
en lei my op die ewige weg!"
(vv 23,24)
Ashton