"Maak dan my blydskap volkome,
deur eensgesind te wees -
een in liefde,
een van gees,
een in denke;
deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie,
maar in nederigheid
moet die een die ander hoër ag as homself!"
(Fil 2:2-3)
Die Grieks vir selfsug is "eritheia".
Eritheia verwys na skelmstreke en manipulasie
wat mense doen om mag en aansien te kry.
Dit is wanneer mense hulle eie belang,
bo die belang of doelwitte van die groep plaas.
Dit is wanneer wetgewers wette maak
wat hulle eie sakke baat,
maar die land skade aandoen.
Dit is wanneer motoriste in die geel lyn afry,
as die verkeer swaar raak,
al beteken dit dat noodvoertuie nie meer daar kan ry nie.
Dit is wanneer kerkmense en sinodegangers prosesse manipuleer,
en hulleself in posisies van mag en aansien inwurm,
selfs ten koste van die kerk.
Jakobus (3:16) sê waar daar selfsug (eritheia)
en afguns is,
sal daar ook wanorde
en gemene dade wees:
in die land,
in die verkeer,
in die kerk.
Christus het nie aan Homself gedink toe Hy aan die kruis gehang het nie.
Christus se hele lewe kan beskryf word met hierdie woord:
self-opoffering.
Die eie-ek het daarom GEEN plek in Sy liggaam nie.
"Laat die gesindheid wat daar in Christus Jesus was,
ook in julle wees:
Hoewel Hy in die gestalte van God was,
het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie,
maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,
deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy in die vorm van 'n mens verskyn het,
het Hy Homself verneder,
deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe,
ja, die dood aan die kruis."
(Fil 2:5-11)
Ashton