"Dra jou deel van die ontberings
soos 'n goeie soldaat van Christus Jesus."
(2 Tim 2:3)

Hierdie is een van daardie verse
wat in elke vertaling anders vertaal word.
Die uitdaging kom ,
omdat Paulus sommer sy eie woord ontwerp:
Sung-kaka-pathêô -
Saam-slegte-beleef.

Hy sê vir Timoteus:
beleef saam met ander slegte dinge,
soos soldate wat saam met ander soldate
die gruwel van oorlog moet ervaar.

Hy skryf hierdie terwyl hy wag om die doodstraf te ontvang.
Meeste van sy vriende en aanhangers,
het hom verlaat en maak nou of hulle hom nooit geken het nie.

Om in daardie tyd vriende te wees
met iemand wat die doodstraf ontvang het,
was sosiale self-moord.
Jy het al jou eer verloor,
en almal het jou geboikot.
Enigiemand wat jou nie geboikot het nie,
was self dan geboikot.
Daarom dat Petrus ontken dat hy vir Jesus ken.

Natuurlik is Paulus bitter hieroor,
maar hy is meer besorg oor die Evangelie.
As almal hulle van hom distansieer,
wie gaan met sy bediening aangaan na sy dood?
Gaan die hele Christelike beweging stop,
net omdat sommige mense 'n voorbeeld van een leier gemaak het?

As die dissipels aangehou het om vir Jesus te verloën,
was daar geen kerk nie.
Geen Christenskap!
Die kerk kon slegs ontstaan,
omdat die dissipels saam met Jesus die slegte beleef het
- deur dieselfde straf as Hy te ondergaan.

'n Christen kan nie afgesit word deur die media,
of deur politiek,
of deur groepsdruk,
wat 'n voorbeeld maak van iemand wat opstaan vir die Evangelie,
en Christelike waardes nie.

Ter wille van die Evangelie,
moet ons onsself soms skaar
by mense wat deur die samelewing
of selfs deur ons eie geloof-gemeenskap,
verafsku word -
al beteken dit dat ons saam met hulle die slegte moet beleef.

Ashton